Ek, Jeffrey Hendricks, ’n inwoner van Macassar, is nog nooit so behandel deur die personeel, leierskap en Sassa-dokter van die Macassar-gemeenskap-daghospitaal (CDC) nie.
In 2015 is makulêre degenerasie met ’n besoek aan Tygerberg-hospitaal by my gediagnoseer – ’n ongeneeslike siekte wat my sig stadig aftakel. Ek het in 2022 met retinale siftings en diabetiese oogtoetse begin. Die uitslae is op pienk vorms ingevul en na my lêer by die Macassar CDC gestuur vir veilige bewaring.
Toe ek die dokter versoek om vir permanente ongeskiktheidsvoordele aansoek te doen, was daar geen mediese dokumente van my oogtoetse in my lêer nie. My aansoek is op 23 Mei 2024 geweier omdat daar glo geen mediese bewyse vir my toestand was nie.
Ek het op 30 September 2024 weer na die dokter gegaan en sy kon slegs my ou Tygerberg-dokumente opspoor.
Sy het aanbeveel dat ek nie ’n motor bestuur nie. Dit sou my R450 gekos het om my eie kopieë van die dokumente te bekom.
Ek het op 30 Oktober 2024 ’n klagte by die daghospitaal ingedien. Kort daarna is ek ingelig dat ek op 16 en 23 Oktober 2024 ’n nuwe retinale sifting moes doen. Maar toe ek op 22 Januarie 2025 my lêer ondersoek, ontdek ek dat my dokumente vir die tweede keer weg was. Die dokter kon weer nie my ongeskiktheidsvoordele goedkeur nie.
Hy het net in my oë gekyk en gesê dat ek baie stories het en moet gaan werk.
Dit is uiters onprofessioneel en nalatig – hy het geen reg om ’n besluit sonder ’n deeglike mediese ondersoek te neem nie.
My ervaring is dat pasiënte by die Macassar CDC swak diens kry.
Ek het langer as 10 jaar as ’n versorger gewerk en menslikehulpbronnebestuur studeer.
My passie vir verpleging het my gemotiveer om die beste diens moontlik aan bejaardes en my gemeenskap te lewer.
Ek het selfs aangebied om gratis leêrordening te doen om die orde te herstel, maar my voorstel is heeltemal geïgnoreer.




