Nadia Lotz, wat twee jaar gelede vermoor is.

Die beskuldigde Charles Apollis, wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het verlede Woensdag (19 Februarie) weer in die Strand-streeks­hof verskyn. Die saak is met die hofverskyning tot Woensdag 19 Maart vir konsultasie met sy nuwe prokureur uitgestel.

Apollis staan tereg weens die moord op die ma van sy drie minderjarige kinders. Lotz het op Saterdag 4 Maart 2023 die slagoffer van ’n noodlottige mesaanval geword nadat ’n stryery glo tussen die oorledene en die moordbeskuldigde uitgebreek het (“Pa vermoor glo ma van 3,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023). Apollis word daarvan beskuldig dat hy die 32-jarige van Temperance Town se keel afgesny het. Die paartjie het na bewering ’n saamrygeleentheid met die oorledene se vriendin uit die Strand na Gordonsbaai ontvang en was glo op pad huis toe toe hulle in die motor stry gekry het. Die beweerde woordewisseling het glo uiteindelik in die noodlottige mesaanval ontaard.

Strand-polisiebeamptes het omstreeks 18:00 daardie Saterdag op die voorval in Laer Gordonsbaaiweg gereageer.

Apollis, wat glo agter Lotz gesit het, het na bewering oor die passasiersitplek geleun en haar keel afgesny. Nadat Lotz glo in die ry uit die bewegende motor gestoot is, is die vriendin, wat agter die stuurwiel was, na bewering met die mes gedreig en opdrag gegee om aan te hou ry.

Lotz is op die toneel dood.

Die beskuldigde het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee. Die Strand-polisie het by navraag ná sy inhegtenisneming bevestig dat die beskuldigde al voorheen van verskeie geweldsmisdade aangekla is, maar nooit skuldig bevind is nie. Hy was ook ten tyde van die moord uit op borgtog in ’n poging-tot-moord-saak.

Apollis bly vir die duur van die hofsaak agter tralies nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het (“Beskuldigde weier borg,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Maart 2023). Dit nadat ’n petisie teen sy vrylating deur honderde plaaslike gemeenskapslede onderteken en ingedien is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article