’n Verwoestende brand het verlede Donderdag (9 Januarie) 20 strukture in die Deepfreeze-informele nedersetting in Macassar vernietig en 50 mense haweloos gelaat.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het hulle omstreeks 12:30 ’n noodoproep ontvang. Brandweerspanne van Strand, Somerset-Wes, Sir Lowry’s Pass en Lansdowne is ontbied om die brand in Reeb-weg te blus.
“Die brandbestryders het die vlamme teen 15:10 onder beheer gebring,” het Carelse gesê. Hy het ook bewerings van inwoners oor ’n vertraagde reaksietyd weerlê en verduidelik dat die Somerset-Wes-brandweer binne 14 minute ná die oproep op die toneel aangekom het.
Inwoners is steeds geskok oor die omvang van die skade. Jaylin Malgaes (24) het beweer sy het die brand eerste raakgesien toe sy rook geruik het. “Ek het die vlamme in my pa se duiwehok gesien. Hy is steeds in skok oor die verlies,” het sy gesê.
Melinda Abrahams (55) was nie tuis toe die brand ontstaan het nie. Sy het vertel hoe sy met ’n oproep ingelig is dat haar huis aan die brand is. “Ek het dadelik alles gelos en huis toe gejaag. Ek kon gelukkig van my goed red, maar ander het alles verloor,” het sy gesê.
Abrahams het ook die gemeenskap vir hul vinnige hulp geprys.
Daniel Engelbrecht, een van die inwoners wat gehelp het, het vertel hoe hy en ander saamgewerk het om soveel moontlik te red. “Ons het probeer om die vlamme in bedwang te hou tot die brandweer opgedaag het,” het hy gesê.
Intussen is die strate van Deepfreeze oorvol met meubels en ander goedere wat uit die vlamme gered is. Noodlenigingspogings is reeds aan die gang, met ondersteuning wat van omliggende gebiede begin instroom het.
Pastoor André Wales, ’n gemeenskapsleier in Deepfreeze, het gesê hulle is oorweldig deur die hulp van ander. “Ons het kos en klere ontvang, maar het steeds ’n groot behoefte aan basiese benodigdhede, soos skoolklere vir die kinders,” het hy gesê.
Gesinne wie se huise afgebrand het, word tydelik deur ander inwoners wat hul huise oopgestel het, gehuisves.
- Wales het die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak en te help waar moontlik. Belangstellendes kan hom by 082 294 4314 kontak.




