Kinders stap deur die modder om die alge-besmette water in die deurloop agter Dr. G.J. Joubert Primêre Skool te vermy.Foto: Barend J. Williams


Nadat gemeenskapslede van die Weltevreden-woongebied hul misnoeë en bekommernis uitgespreek het oor vuil water in ’n deurloop agter ’n Strandse laerskool en wat moontlik ’n gesondheidsrisiko inhou, het die Stad Kaapstad se water-en-sanitasie-afdeling ondersoek ingestel en geen bewyse gevind wat die bewerings staaf nie.

DistriksPos & Helderberg Gazette het verlede week berig oor ’n beweerde lekkasie in ’n deurloop tussen Naomi- en Abattoirstraat agter Dr. G.J. Joubert Primêre Skool, wat stagnante poele water veroorsaak (“Vuil water in deurloop pla,” 15 Januarie). Wat die beweerde situasie vererger, is glo dat die water met alge besmet is en ’n visagtige stank in die lug laat hang – dit benewens ’n stortingsprobleem wat die omgewing besoedel en tot die brandende kwessie bydra.

Inwoners het die situasie as ’n gesondheidsrisiko beskou – veral vir skoolkinders wat die deurloop gebruik.

Die koerant het die Stad genader om kommentaar, maar geen terugvoer is teen druktyd verlede Dinsdagoggend (14 Januarie) ontvang nie. Die Stad het vandeesweek op die navraag gereageer en insig gebied nadat ondersoek ingestel is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomi­teelid vir water en sanitasie, het gesê die Stad se retikulosiet-span het die terrein na aanleiding van die diensversoek geïnspekteer. “Die span het geen verstopping in die rioolstelsel of lekkasie op die pyplyn in sy terrein­inspeksie gekry nie,” het Badroodien gesê.

Hy het verduidelik dat die waterbesoedelingsbeheer-span daarna die visfabriek langs die skool, sowel as die skool se omgewing, ondersoek het.

Badroodien het verder beklemtoon dat die stagnasie in die deurloop weens die terrein se grondwatervlak kan wees, wat water laat opdam.

“Geen sigbare lekkasies is gevind wat uit die skool of die visfabriek kom nie. ’n Nesler-toets (’n toets wat gebruik word om die teenwoordigheid van ammoniak en ammoniaksoute op te spoor) het die afwesigheid van ammoniak aangedui, wat moontlike rioolbesoedeling uitsluit,” het Badroodien gesê.

Hy het bevestig dat kaarte van die Stad se geografiese inligtingstelsel (GIS) aangedui het dat daar geen pype onder die deurloop is nie. Die inspeksie het ook geen reuke of ander aanduidings van besoedeling tydens die ondersoek opgespoor nie.

Badroodien het bygevoeg dat die watermonster wat geneem is deur die Stad se wetenskaplike-dienste-tak ontleed sal word om moontlike bronne van die waterbesoedeling te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article