My naam is Theo Basson, en ek woon in Brandstraat, Strand. Ek mag nie met my hond op die hoofstrand stap nie, en vir my, as belastingbetaler, is dit ’n voorreg wat my ontneem word.

Ons strand was vol besoekers tydens die afgelope vakansie, en baie gemors is agtergelaat, wat die stadsraad teen ’n koste moes skoonmaak. Ons betaal immers die skoonmakers se salarisse, maar daar is geen voordeel vir ons nie.

Ek het die aangeleentheid met raadslid Carl Punt bespreek, maar ek is nie tevrede met sy antwoord nie. Hy het meegedeel dat ons van die swembad na Greenways met ons hond op die strand kan stap. Hoekom moet ek my hond in die motor laai en dan daarheen ry om te gaan stap? Ek vang soms vis en so ’n paar jaar gelede het ek daar onder vandale deur geloop. Dit gaan oor veiligheid.

Honde mors nie so baie nie. As my hond ’n ongeluk kry, kan ek dit optel.

My voorstel is dat die gebied soggens, tussen ses- en nege-uur, oopgestel word vir honde-eienaars. Dit moet verpligtend wees dat die hond aan ’n leiband is. Daar is tans mense wat met honde op die strand loop en daar word nie opgetree nie.

Ek besef dat sommige inwoners dalk beswaar sal maak, maar ons stel nie lewens in gevaar nie, net soos talle bestuurders wat stoptekens ignoreer, sonder gevolge.

Ons uitgangspunt moet wees: “Leef en laat leef.”

Theo Basson,

Strand

Wyk 83-raadslid Carl Punt reageer: Honde word nie toegelaat op die hoofstrand-gedeelte (van Strand Pavillion tot Lourensrivier), asook die Mariene Beskermde Gebied (MPA) nie. Inwoners kan wel met hul honde aan ’n leiband tussen die Strand se swembad en Greenways gaan stap waar honde wel toegelaat word op die strandgedeelte. Hierdie is reeds verduidelik aan die klaer (Theo Basson) by ’n vorige geleentheid en die klaer is welkom om my weer te kontak indien hy so verkies.

Die Stad Kaapstad verduidelik: Die huidige reëlings vir waar honde op die strand mag loop, is meer as 10 jaar gelede deur ’n openbare deelnameproses bepaal en daarna deur die raad goedgekeur. Sedertdien het daar talle voorvalle van honde-aanvalle op mense in die Kaapse metropool plaasgevind. Dit beklemtoon dat die toelating van honde op die hoofstrand ’n veiligheidsrisiko of ongerief vir ander strandgangers kan inhou. Honde word verbied om op sekere strandgebiede te loop omdat die Stad voorsiening moet maak vir alle strandgebruikers, insluitend dié wat nie honde besit nie, mense wat nie deur honde gesteur wil word nie, en individue met ’n inherente vrees vir honde. Verder het honde ook ’n ekologiese impak, soos gesien in die afname van voëls in sekere gebiede, veral in die Helderberg se Mariene Beskermingsgebied (MPA). Migrerende sternspesies [seeswaweltjie] het reeds beduidend afgeneem, soos deur jare se monitering bevestig is. Enige versoeke om ’n aangewese gebied vir honde op die hoofstrand te skep, of om spesifieke ure toe te laat waarin honde daar mag loop, moet formeel by die plaaslike subraad ingedien word. Hierdie versoeke sal die bestaande reëlings rakende aangewese hondegebiede en beperkings kan beïnvloed, soos uiteengesit in die dokument Dogs and Horses on CTBeaches.pdf wat op die stad se webwerf (capetown.gov.za) beskikbaar is. Die Stad streef daarna om troeteldiervriendelike beleide in openbare ontspanningsruimtes te bevorder. Hiervoor is dit noodsaaklik om met verskeie rolspelers te konsulteer en ’n openbare deelnameproses te implementeer. Sodoende kan die Stad verskillende sienings van alle strandgebruikers verkry, wat uiteindelik beleidsveranderings sal rig indien nodig.

Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassingsafdeling: Die Stad Kaapstad hanteer honde-eienaars wat hul troeteldiere toelaat om vrylik op die strand rond te loop of wat nie hul troeteldiere se ontlasting verwyder nie deur aanvanklik waarskuwings of voldoeningskennisgewings uit te reik. Indien hierdie waarskuwings nie nagekom word nie, kan boetes van tot R1 000 opgelê word. Wetstoepassers patrolleer ook om te verseker dat honde-eienaars die regulasies vir die verwydering van troeteldierafval nakom. As lede van die publiek nie die reëls om hul troeteldiere se ontlasting op te tel, gehoorsaam nie, kan boetes van R500 uitgereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article