Suid-Afrika se Inkomstebelastingwet is waarskynlik die lompste en mees komplekse wetgewing in die wetboek. Deur die jare het ek vir myself riglyne ontwikkel, wat die lees van hierdie Wet vir my aansienlik makliker gemaak het:
1. Inkomstebelasting is slegs betaalbaar as daar sprake is van belasbare inkomste
Belasbare inkomste ontstaan wanneer ’n belastingpligtige se totale inkomste (wat nie spesifiek vrygestel is in terme van die Wet nie), sy totale aftrekkings oorskry. Inkomstebelasting word dan bereken op die belasbare inkomste deur die belastingtabelle van toepassing op natuurlike persone, wat elke jaar tydens die begrotingsrede aangepas word, te gebruik. In die geval van regspersone, soos maatskappye, is die belasting betaalbaar 28% van die persoon se belasbare inkomste.
2. Vir elke belastingonreg is daar ’n remedie
Die Latynse spreekwoord Ubi Jus Ibi Remedium beteken dat die Reg vir elke onreg ’n remedie verskaf. Onregte gepleeg teenoor die belastingpligtige en die fiskus (staatskas), sowel as die remedies beskikbaar vir hierdie twee partye in die geval van onregte, word in meer besonderhede bespreek in riglyne 3 en 4 hieronder.
3. Dubbele aftrekkings word verbied
Sou dieselfde uitgawe twee keer deur dieselfde belastingpligtige geëis kan word as ’n belastingaftrekking, sal ’n onreg gepleeg word teenoor die fiskus. Om hierdie rede is artikels 23B en 23C in die Wet ingesluit, sodat die nodige remedies beskikbaar is vir die fiskus. Artikel 23C byvoorbeeld bepaal dat as ’n belastingpligtige inset-BTW geëis het met die aangaan van ’n uitgawe, hy dan slegs die bedrag, uitgesluit BTW, kan eis as ’n aftrekking vir inkomstebelastingdoeleindes.
4. Dubbele belasting word aangespreek
Die belastingpligtige sal ’n onreg ly as hy op dieselfde bedrag twee keer belas word. ’n Voorbeeld van ’n remedie beskikbaar aan die belastingpligtige kan gevind word in paragraaf 35(3)(a) van die Agste Bylae van die Inkomstebelastingwet, wat bepaal dat die verkoopsom van ’n kapitaalbate vir kapitaalwinsbelastingdoeleindes, verminder moet word met enige gedeelte van die verkoopsom wat reeds ingesluit is in die belasbare inkomste van die belastingpligtige, voor die insluiting van enige belasbare kapitaalwins.
5. Voorbehoudsbepalings in die Wet is noodsaaklik
’n Studie van die Inkomstebelastingwet sal aan die lig bring dat daar talryke voorbehoudsbepalings is. Die voorbehoudsbepalings wat verskaf word aan die belasting-pligtige of die fiskus is in die meeste gevalle bloot remedies .


