Die amptelike lokprent vir die nuwe Koos Roets film, Hoener met die rooi skoene, is pas bekendgestel.
Dis nie ’n kinderstorie of ’n feëverhaal nie. Ook nie ’n drama nie, maar rillerkomedie wat jou tone sal laat krul.
Bonnie van der Byl (Lizz Meiring) is ’n ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voortklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz).
Sy tref hom met ’n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar aan en skakel dan die polisie. Maar by nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy oudergewoonte flou.
Wanneer sy met die flitslig van konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld . . .
Hiermee is die tafel gedek vir ’n spannende, maar skreeusnaakse rillerkomedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai Napoleon en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.
“Dis nie ’n fliek wat vir mense lewenslesse moet leer nie. Ek het hierdie fliek gemaak met een doel voor oë – om mense te vermaak.
Daar is genoeg nonsens in ons land waaroor almal hulle kwel. Mense moet ook net ’n bietjie kan terugsit, ontspan en lekker lag. Dis nou wanneer jy nie te veel skrik vir die moordenaar nie,” skerts Roets.
“Dis nie ’n tipiese slapstick-komedie nie. Niemand gooi iemand anders met ’n pastei nie. Die humor en snaakse insidente is toevallig. En die karakters eg – mense wat werklik kan bestaan.”
. Die fliek word môre (Vrydag) landwyd vrygestel.



