Daniël Prinsloo, ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Lochnerhof, en Anzio Abels (Smart Living-kursuskoördineerder).Foto:


Daniël Prinsloo het ’n passie vir die natuur en spog met ’n silwergradering-sertifikaat om dit te bewys.

Dié Laerskool Lochnerhof-leerder het in die Maart-skoolvakansie ’n Smart Living-vyfdagkursus vir gr. 7-leerders by die akwarium in Kaapstad bygewoon en ’n silwergradering-sertifikaat vir sy suksesvolle voltooiing en deelname aan die kursus gekry.

Die doel van die kursus is om jongmense te leer oor volhoubaarheid wat biodiversiteit, afval, energie en water betref.

Benewens onderwerpe oor die menslike invloed op die omgewing en volhoubare lewe in ’n moderne samelewing, is leerders blootgestel aan ekologiese konsepte, mariene-ekostelsels en volhoubare gebruik van die see as ’n bron van kos, energie, minerale, toerismegeleenthede en ontspanning.

Die groep het die Groenpunt-ekopark en die Kuspark se stortingsterrein besoek en kon sien hoeveel vullis elke dag in Kaapstad alleenlik versamel word. Kursusgangers het elke dag ’n toets geskryf oor die vorige dag se aktiwiteite.

Leerders moes twee omgewingsbewustheidsaksies uitvoer om vir die sertifikaat te kwalifiseer.

Daniël het Dinsdag 16 April kragte met die Future Kids-klub en Stefan Graunke van Cosatal Ghost vir ’n Strand-skoonmaaksessie saamgespan. Sy suster, Karla, en ’n vriend, Jannie Boonzaaier, het hom hiermee gehelp.

Stefan het Donderdag 21 Februarie in Richardsbaai met ’n inisiatief begin – om 50 strande tot by Port Nolloth aan die Weskus skoon te maak en bewustheid te skep.

Daniël het Sondag 21 April ’n praatjie oor die Swart Tobie, ’n klein swart voëltjie met rooi bene en oranje bek en wat veral op strande gesien word, gelewer. “Hulle was op die bedreigde lys vir voëls, maar danksy suksesvolle bewaringsaksies, veral in Bettysbaai, het hulle nou ‘minste kommer-status’,” sê Daniël

Dit is vir hom belangrik en hy beklemtoon graag dat diere bewaar moet word. “Diere vervul ’n belangrike rol in die natuur en dra by tot gesonde ekostelsels. Wanneer ’n spesie bedreig word, is dit ’n teken dat die ekostelsel stadig maar seker begin uitmekaar val. Elke spesie wat verlore gaan, gee aanleiding tot die verlies van ander spesies in daardie spesifieke ekostelsel.”

Daniël sê die mensdom is afhanklik van gesonde ekostelsels om die omgewing te suiwer. Hy het beklemtoon mense moet verantwoordelikheid neem en help waar hulle kan om die natuur te bewaar.

Daniël het sy silwer-gradering vir die kursus gekry nadat hy terugvoering oor bogenoemde projekte met ’n Powerpoint-aanbieding gedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article