Die akteurs wat in Medium Rare te sien was, is agter Ethan Verezzen, Ryan Niland, Liam Meldrum en Gary Steyn. Voor is Alex Nieto Lawrence, Mia van der Merwe en Angelique Filter.


Die dramadepartement van Hoërskool Parel Vallei het skoonskip gemaak by die jaarlikse Durbanville Skoletoneelfees, aangebied deur Hoërskool Durbanville.

PV se twee dramaproduksies, Medium Rare en (V)lug, het in die produksies-kategorie die eerste en tweede plek onderskeidelik beklink terwyl die skool ook die Kevin Lorenzen-gedenktrofee vir tegniese voortreflikheid “vir die verbluffend kreatiewe oudiovisuele en tegniese aspekte” in (V)lug toegeken is.

PV se drama-onderwyser Yanou Pienaar het die regie-afdeling met Medium Rare gewen en is derde in die kategorie vir nuwe teks vir dieselfde toneelstuk.

PV se ander drama-onderwyser, Darryl Spijkers, het die tweede plek in die regie-afdeling behaal met sy regie van (V)lug.

Verder het PV-leerders Mia van der Merwe en Angelique Filter, wat albei in Medium Rare te sien is, die eerste plek gedeel vir die beste aktrise in ’n hoofrol. Josua Nel is as die vierde beste akteur in ’n hoofrol benoem vir sy vertolking van die karakter Dirk in (V)lug en Anke Tough het die vierde plek behaal vir ’n aktrise in ’n ondersteunende rol vir haar vertolking van die karakter Sussa in dieselfde toneelstuk.

PV se Marc Jacobs is met die Dawie Maritz-gedenktrofee vereer “vir die regie, skryf en oudiovisuele aspekte van sy produksie van Bruwelik”.

(V)lug het ook die trofee vir tegniese inkleding gewen, asook die tweede plek vir ensemble behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article