Leerders aan Hoërskool Parel Vallei se drama-afdeling sal vanjaar steeds aan die ATKV-tienertoneelfees, Playhouse Drama Festival, Montagu Youth Arts Festival en Aardklop Pronk Podium kan deelneem.
Altesaam agt unieke eenmanstukke sal op die planke gebring word wat op skeppende maniere aanlyn gedeel en hopelik later ook volgens voorgestelde maatreëls voor ’n klein gehoor opgevoer sal word.
Dramaliefhebbers kan weer daarna uitsien om met stukke deur die gr.11- en gr.12-leerders Angelique Filter, Memory Mhalangu, Dylan Janse van Rensburg, Anke Tough, Nerise Malan, Reike Ferreira, Lienke Frylinck en Juné Kruger bederf te word.
Vanjaar se dramaseisoen beloof om net so goed as verlede jaar te wees toe die skool se drama- en musiekafdeling verskeie kere staande toegejuig is. Drie dramaproduksies – twee deur onderwysers en een deur ’n leerder – is opgevoer. Al drie het goed gevaar en het al die dramafeeste – Pearson, Somerset-Wes Playhouse, Durbanville, Montagu en Fraserburg – gewen.
By die ATKV-tienertoneel het die Afrikaanse stukke (V)lug! en Bruwelik tot die eindronde deurgedring waar PV as een van die vyf beste skole aangewys is. Die Engelse toneelstuk Medium Rare het ook skoonskip gemaak en die Montagu- en Durbanville-toneelfees asook die PV Playhouse Festival gewen. Die musiekblyspel Fiddler on the Roof is ook met groot sukses aangebied.
Darryl Spijkers, hoof van PV-drama, sê die afgelope jaar was baie suksesvol en hy sien uit na die nuwe seisoen, want, soos hy sê: “Nothing can hide the light of a child who has passion”.



