Jan-Hendrik Opperman en Johannes Pieter Nel tydens die verfilming van die mentorskapvideo vir Paul Roos Gimnasium se Filmit-kompetisie.


Inskrywings vir Paul Roos Gimnasium se Filmit-kompetisie is amptelik gesluit.

Die skool is opgewonde oor die 70 filmkonsepte wat deur 33 skole in Suid-Afrika, onder andere Hoërskool Strand en twee skole in Namibië ingeskryf is. Die filmkonsepte is reeds aan die paneel van onafhanklike beoordelaars voorgelê, wat nou nagegaan sal word en die 20 beste konsepte uitsonder vir deelname in die tweede ronde. Die paneel bestaan uit Bradley Joshua en die Gambit Films-span, Moenier Hendricks van Homebrew Films, Richard September en Marcel Spaumer, albei van Suidooster-faam.

Die 20 gekose skole sal vandag (Donderdag 1 Julie) aangekondig word, waarna hulle kan begin met die ontwikkeling en verfilming van hul flieks. Met die afskop van die derde skoolkwartaal sal die aanlyn mentorskapprogram vir die deelnemende leerders plaasvind. Dit vind tussen 26 Julie en 6 Augustus plaas.

Die doel van die mentorskapprogram is om deelnemende skole en leerders by te staan in die ontwikkeling en verfilming van hul filmkonsepte. Deel een van die mentorskapprogram is ’n voorafopgeneemde mentorskapvideo wat kwessies soos voor-produksie, produksie en post-produksie aanspreek. Dit word aangebied deur Jan-Hendrik Opperman, die hoof van drama by Paul Roos Gimnasium, en die bekroonde kinematograaf Johannes Pieter Nel.

Die video, wat op Paul Roos Gimnasium se YouTube-kanaal beskikbaar sal wees, sluit ook video-insetsels deur filmbedryfkenners soos Nagvlug Films, Infinity Films, Fahema Hendricks, Lloyd O’Connor, Neil Sandilands, Braam du Toit, Michael Botha en Eva du Toit in. Alle skole wat ingeskryf het, word aangemoedig om die video’s te bestudeer ter voorbereiding van aanstaande jaar se Filmit-kompetisie.

Deel twee van die mentorskap­program het ’n meer persoonlike aanslag, waar vyf Suidooster-akteurs hul kennis en tyd beskikbaar stel deur elk vier skole aan te neem en te mentor. Die mentorskap sluit twee interaktiewe aanlyn sessies per skool in, waar idees uitgebou en bespreek word en leerders bemagtig word om hul films suksesvol te vervaardig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article