Richard Thiart, ’n leerder aan die Laerskool Lochnerhof in Strand, het die afgelope week sy eerste musiekeksamen, Inisiaal Klavier, by Die Musiekakademie afgelê en is op die goue ererol van dié musiekskool geplaas.
Richard het 146,5 uit 150 (97,6%) in sy praktiese eksamen behaal, ’n besonderse prestasie aangesien hy in Maart vanjaar met klavierlesse begin het. Sy klavier-onderwyser, Andre Coetzee, skryf sy prestasie toe aan talent en harde werk.
Volgens Coetzee moet beginner-leerders normaalweg eers ’n jaar musieklesse neem voordat hulle vir hul eerste musiekeksamen voorberei, maar hy het in die eerste maand van lesse geweet Richard is spesiaal en hom begin voorberei vir die Inisiaal-eksamen, wat virtueel aangebied is.
Dries Petzer, die registrateur van Die Musiekakademie, en een van die eksaminatore van die akademie, het die jong musikant se werk geassesseer en albei was tevrede met die standaard van sy eksamen. “Vir ’n leerder om hierdie punte te behaal, vereis dat die kandidaat al die afdelings uitsonderlik moet voordra,” het Petzer gesê en bygevoeg dat ’n merietesertifikaat aan die talentvolle klavierspeler uitgereik sal word.
Hanli Geldenhuys, die adjunkhoof van Laerskool Lochnerhof, het gesê: “Richard is so ’n nederige seun en sal nie self van sy uitsonderlike prestasie praat nie. Dit is voorwaar ’n prestasie om op trots te wees. Richard beïndruk ook by die skool met sy werksetiek en goeie gedrag, en ons het nou net nog meer respek vir hom.”




