Lindie Strydom (links) is die nuwe bemarking- en kommunikasiebeampte by die Hoërskool Parel Vallei, ’n rol wat langer as agt jaar deur Griselda Botha vervul is.


’n Nuwe vrou staan nou aan die stuur van bemarking- en kommunikasie-sake by die Hoërskool Parel Vallei.

Lindie Strydom het vandeesmaand amptelik die pos van bemarking- en kommunikasiebeampte van dié skool by Griselda Botha, wat meer as agt jaar gelede as PV se eerste bemarking- en kommunikasiebeampte aangestel is, oorgeneem.

“Ek onthou van my eerste werksdag af dat daar volop bemarkings- en kommunikasienuus was; dit moes net die lig in die buitewêreld sien en gevier word,” onthou Botha. “Dit was ’n voorreg om die PV-handelsmerk saam met ander te kon uitbou en ek kan nie dink aan enige ander plek waar ek eerder sou wou werk nie! Dankie aan alle belangegroepe en borge saam met wie ek kon droom en bou. Ek rig ook ’n groot ‘dankie’ aan die skoolhoof, David Schenck, wat altyd wyer dink en so baie doen om die skool tot voordeel van die leerders verder te bemark en te laat groei.”

Botha sal steeds by die skool as trotse ouer betrokke wees en meen sy sal “altyd ’n trotse Parel Valleier bly”.

Die skoolbestuur het Strydom in haar nuwe rol verwelkom. “Sy is nie net ’n motiveringspreker, aanbieder en akteur nie, maar het ook as skrywer ’n natuurlike aanvoeling vir bemarking en kommunikasie. Sy het ’n hart vir mense en is passievol oor die jeug en hul opvoeding. Sy is ook ’n toegewyde ma van drie Parel Valleiers,” sê Botha.

“Strydom is ’n groot aanwins vir PV; die skoolhoof, bestuur en beheerliggaam wens haar alles van die beste toe vir die nuwe taak. Ons sien daarna uit om nog ’n lang en wonderlike PV-pad saam met haar te stap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article