Die Macassar-polisie ondersoek twee sake van moord nadat twee mans die afgelope naweek vermoor is.

Die oorledenes was slagoffers van messteekvoorvalle in onderskeidelik twee informele nedersettings in die gemeenskap. Die eerste voorval het verlede Vrydagnag (7 Januarie) in die Gaatjie-Wes- informele nedersetting in Smartie Town plaasgevind en die lewe van die 43-jarige Ricardo Petersen geëis.

Dié mesmoord is opgevolg deur ’n tweede aanval wat Sondag (9 Januarie) in die vroeë oggendure in die Nyakathisa- informele nedersetting in Macassar Village plaasgevind en die lewe van die 24-jarige Luyanda Bhoza kortgeknip het.

Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het Petersen in Japonikastraat gestap toe hy onverwags deur ’n gewapende aanvaller geteiken en in die bors gesteek is. Petersen het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Petersen se suster, Elize Vermeulen, sê die tragedie het gebeur kort nadat haar broer van hul huis af weg is. “Toe ek minute later deur gemeenskapslede geroep en meegedeel is dat my broer in die pad aangetref is nadat hy gesteek is, het ek in my hart geweet dat hy nie meer lewe nie,” het ’n bedroefde Vermeulen vertel.

Sy het voorts verduidelik dat Petersen sowat ’n maand voor sy dood ook die slagoffer van ’n messteekvoorval was en daardie aanval oorleef het. “Maar nie dié keer nie.”

Volgens Vermeulen sukkel die familie om die harde werklikheid en verlies te aanvaar, want hoewel Petersen as tiener tot in sy twintigerjare in die Kaap by bendes betrokke was, het hy glo sedertdien sy lewe omgekeer, en vandat hy in Macassar woon, het hy niemand leed aangedoen nie.

“Die vorige poging-tot-moordsaak het doodgeloop, maar ons gaan dit nie hierdie keer so los en toelaat dat die misdadiger met moord wegkom nie,” het sy belowe.

Sy het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan en uit te praat teen sulke misdade, “want niemand is ’n uitsondering nie, en die volgende keer kan dit dalk net een van hul kinders wees”.

Volgens die polisiewoordvoerder is ’n verdagte aangekeer nadat verklarings geneem is. Die 22-jarige man is Saterdag in hegtenis geneem en het Maandag (10 Januarie) in die Somerset- Wes-landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.

Hy word tot sy volgende hofverskyning volgende Maandag (17 Januarie) aangehou.

In die voorval wat Bhoza geëis het, is polisielede Sondag omstreeks 01:00 na die toneel ontbied. Volgens die polisiewoordvoerder is Bhoza met ’n mes bygedam nadat ’n stryery tussen hom en sy aanvaller ontstaan het.

Die vriende het na bewering saam in ’n oop veld gekuier toe die moeilikheid begin het.

“Hy het glo ’n hamer gaan haal om die man aan te val, maar laasgenoemde het daarin geslaag om hom drie keer te steek. Die slagoffer het steekwonde aan sy gesig en in die bors opgedoen en beswyk.”

’n Verdagte, ’n 24-jarige man, is ná die voorval in hegtenis geneem en het ook die afgelope Maandag in verband met die moord in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

Die saak is tot Maandag (17 Januarie) uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article