Die toutrekkers van Hoërskool Strand het Saterdag 29 Januarie hul krag en vaardighede ten toon gestel en stem dik gemaak in ’n kompetisie by die Westcliff-skool in Bellville.
Te midde van warm weerstoestande het 12 spanne van die Arende die veld gevat met heelwat nuwe trekkers wat vir die eerste keer die ervaring van ’n toutrek-kompetisie kon meemaak. Die nuwe toetreders tot dié opwindende spansport het waardevolle ervaring opgedoen en daar word baie van hulle in die nabye toekoms verwag.
Tegniek, stamina en spanwerk het daartoe gelei dat al die meisiespanne hulself deeglik laat geld het. Dit was verfrissend om te kon sien hoe die nuwe meisie-trekkers onder druk gereageer het, sowel as tydens suksesvolle “wentrekke” opgelewer het. Daar word baie van die jong groep nuwelinge verwag, aangesien die meer ervare trekkers as mentors vir die nuwelinge dien.
Die seunsspanne het van meet af hul stem dik gemaak met veral die baie ligter 600 kg-span wat ’n verrassende algehele tweede plek in die ligakompetisie behaal het. Ook die 560 kg-span het ’n welverdiende derde plek in dié taai gewigsgroep behaal.
Die Arend-span, wat die beste gevaar het, was die 520 kg gemengde span (vier seuns en vier meisies) wat, getrou aan Arend-tradisie ’n eerste plek in dié afdeling behaal het. Al drie dié spanne het die beste gevaar van al die Westelike Provinsie se inskrywings.



