Fietsryers trap nou eerder elders ná ‘aanvalle’ naby Faure-waterwerke


’n Plaaslike inwoner wat, soos menige ander, uit passie sy fiets opsaal en die Helderberg se fietsryroetes aandurf, het hom – nadat ’n paar ryers in ’n aanval geteiken is – in die lig van die voorval na die koerant gewend in die hoop dat dit owerhede noop om aksie te neem teen misdadigers wat die genot van fietsry en hul lewe bedreig.

“Ek wil die fietsry-gemeenskap waarsku teen hierdie lewensbedreigende aanvalle, wat veral in die laaste tyd in die omgewing van die bergfietsroete naby die Faure-waterwerke toegeneem het. Hierbenewens wil ek die polisie, en meer so die howe, uitdaag om misdadigers aan te keer en te verseker dat hulle boet vir hul optrede en nie môre weer dieselfde ding doen nie,” het die 67-jarige van Somerset-Wes gesê.

Sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, sê vyf verdagtes is aangekeer ná die aanval op twee fietsryers die afgelope Saterdag (5 Februarie).

Jantjies sê die voorval het om 06:10 naby ’n plaas in die omgewing van Ou Hoofweg afgespeel toe vyf gewapende mans op hulle toegesak het.

“Die verdagtes het die fietsryers met ’n vuurwapen en messe gedreig, maar die slagoffers het vinniger getrap en daarin geslaag om van hul aanvallers te ontsnap,” het Jantjies gesê.

Met vinnige polisieoptrede is vyf verdagtes – 17, 23, 26, 32 en 36 jaar oud – ná die voorval opgespoor en in hegtenis geneem. Die verdagtes het Maandag (7 Februarie) op aanklagte van poging tot roof in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak teen die tiener-verdagte is egter teruggetrek omdat hy nie met die voorval verbind kon word nie. Die res word tot hul volgende verwagte hofverskyning vir ’n formele borgtogaansoek aangehou. Die polisie het by verdere ondersoek vasgestel dat die vuurwapen wat die verdagtes gebruik het, ’n replika was en nie ’n regte vuurwapen nie.

Die inwoner het verder sy misnoeë uitgespreek en beweer aanvalle op fietsryers in die omgewing is nie geïsoleerd nie en vind gereeld plaas. Hy het gesê hy is sowat vyf jaar gelede in die omgewing van die Faure-waterwerke deur vermeende rowers geteiken. “Ek het toe nog vir die destydse Cape Argus-fietstoer geoefen, en toe ek een Saterdag ’n plaashek, wat gewoonlik toe is, genader het, het ek geweet iets is nie pluis nie omdat die hek oopgestaan het, en onmiddellik onraad vermoed. Twee mans met stokke het op my afgestorm, maar ek het op my fiets teruggebeur en voordat hulle my kon bydam, in ’n hoë rat weggetrap,” het hy vertel. “Ek het die voorval destyds ook by die polisie aangemeld, wat duidelik nie belanggestel het nie. Gevolglik het niks gebeur nie.”

Die inwoner het verder gesê aanvalle op fietsryers neem sedert verlede Oktober in die gebied toe. Dié man, wat byna drie dekades al fietsry, het glo uit vrees vir sy lewe en dat sy fiets afgevat sal word, ritte in die omgewing gestaak.

Jantjies het bevestig rekords toon dat drie voorvalle in die omgewing van die Faure-waterwerke verlede jaar aangemeld is.

Die eerste voorval het Saterdag 9 Oktober om 15:10 plaasgevind toe twee fietsers deur drie onbekende mans met messe geteiken is. Een van die ryers is deur die mans aangehou en met ’n mes teen die nek en ’n ander teen die maag gedreig en van sy polshorlosie en fiets beroof. Die verdagtes het van die toneel af gevlug en niemand is in hegtenis geneem nie.

Nog ’n voorval het Woensdag 27 Oktober om 07:30 voorgekom toe ’n fietsryer deur ’n vermeende rower met ’n panga gekonfronteer is. Die slagoffer is ook van sy fiets beroof, maar het die voorval sonder beserings oorleef. Weereens is niemand is in verband met die voorval aangekeer nie.

Die laaste voorval wat aangemeld is, was Sondag 14 November toe ’n fietsryer om 09:00 deur ’n man wat ’n mes gehad het, verras is. Die rower het die slagoffer van sy fiets en ander persoonlike artikels beroof. Die polisie het die fiets later met die hulp van ’n lid van die publiek aan die eienaar terugbesorg.

“Drie klagte van roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen word ondersoek. Speurders het die tonele besoek en geen leidrade of inligting is ontvang wat tot inhegtenisnemings kon lei nie. Die polisie doen ’n dringende beroep op mense met inligting om na vore te kom. Die omgewing is baie stil, en het geen kameras om die polisie met die ondersoek of die identifisering van verdagtes te help nie,” het Jantjies gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article