“Ek is ’n Kuiken, ek wens ek was ’n Arend. Ek’s lief vir my matrieks, yes, yes, yes!”
Met dié entoesiastiese kreet het die 2022-kuikens van die Hoërskool Strand die skooljaar met die gr. 8-oriënteringsweek afgeskop. Die geleentheid is Dinsdag 18 Januarie met ’n buitelug-byeenkoms begin, waar alle nuwelinge en hul ouers verwelkom is. Ouers het met trane in die oë hul kinders gegroet en die “bang” en onsekere, maar opgewonde kuikens, agtergelaat.
Daarna is die jaarlikse kuikenkonsert en -dans vir die eerste keer aan die gr. 8-leerders bekend gemaak en oudisies vir hoofkarakters is dieselfde middag gehou. Die res van die week het bestaan uit konsertoefeninge, atletiekuitdunne, voorstellings aan Hoërskool Strand se sport- en kultuurgeleenthede, basislyntoetse, gesprekke met graadleiers en veel meer.
Saterdag 22 Januarie was dit tyd vir die gebruiklike kuikenkonsert, waar ouers en die breër skoolgemeenskap gesien het waarmee die kuikens hulself gedurende die week besig gehou het. Die oriënteringsweek is op ’n hoë noot afgesluit met die kuikens se baadjie-seremonie, waartydens dié leerders toegelaat is om vir die eerste keer hul skoolbaadjies aan te trek indien hulle die oriënteringsweek suksesvol afgehandel het.



