Die gemeenskap van Sir Lowry’s Pass is in rep en roer ná ’n vermeende bendeverwante steekvoorval die lewe van ’n tiener in die dorp geëis het.
Die 17-jarige Hlumisa Xaki is Dinsdagoggend (15 Februarie) voor skool buite ’n winkel op die hoek van Nieulandweg en Magwebu-straat doodgesteek. Xaki was ’n leerder aan Axios-vaardigheidskool in Eersterivier en het hierdie noodlottige dag saam met medeleerders vir die skoolbus gewag.
Volgens die polisie is twee verdagtes, 18 en 14, in verband met die voorval wat omstreeks 06:40 plaasgevind het, opgespoor en ingebring vir ondervraging. Omstandighede rakende die voorval vorm deel van die polisie se moordondersoek.
Met DistriksPos se aankoms op die toneel, was Xaki se lyk reeds verwyder en owerhede, onder andere die polisie en wetstoepassing, sigbaar in die gemeenskap.
Xaki se bedroefde ouma, Jeannie, wat hom soos haar eie grootgemaak het, het gesê “die wond is nog baie rou”. Sy het haar kleinseun nog lewendig gesien toe hy die huis verlaat het vir skool. “Ek is nadat ek teruggekeer het van my oggendstappie en soos ek die ketel aangeskakel het, deur ’n maatjie van hom ontbied. Hy het geskree, ‘An Jeannie, An Jeannie! Kom gou, hulle het vir Boetie waar hy by die winkel opklim, gesteek.’ Ek het onmiddellik na die toneel gehardloop en hom daar wat hy neergesak het, leweloos aangetref.”
Gevra watter soort kind Xaki was, het sy gesê: “Man, kinders blom mos maar voor jou, en buite is hulle verlep. Maar hy was ’n stil kind. Ek het uit liefde met hom gepraat wanneer hy foute begaan het.”
George Engelbrecht, hoof van die Axios-vaardigheidskool, het gesê dat ’n gedenkdiens vir Xaki Vrydag (18 Februarie) by die skool gehou sal word. Engelbrecht het gesê die tiener was in sy laaste jaar en sou in houtwerk spesialiseer.
“Sedert sy eerste dag was Hlumisa absoluut uitstekend – in dissipline, gedrag en teenwoordigheid,” het Engelbrecht gesê.
Hy het verder gesê dat Xaki van ’n minderbevoorregte gemeenskap kom en swaar grootgeword het. Toe hy sewe maande oud was, het hy sy 27-jarige biologiese ma aan kanker afgestaan en is hy gevolglik deur sy ouma ingeneem.
“Hoewel hy in moeilike omstandighede grootgeword het, was hy ryk in karakter en eienskappe. Hy het ’n voordeel gehad van ’n toegewyde ouma wat in sy opvoeding belanggestel het en haar liefdevolle ondersteuning gebied het,” het Engelbrecht gesê.
Volgens die skoolhoof was Xaki een van nege leerders van Sir Lowry’s Pass wat met ’n bus na die skool vervoer word en het die voorval in die nabyheid van die medeleerders gebeur. Hy het gesê daar sal ondersteuning en berading aan hierdie leerders gebied word. “Die besluit is ook geneem dat leerders van Sir Lowry’s Pass uit vrees vir hul eie veiligheid nie Woensdag (16 Februarie) skool toe kom nie.”
Bewerings van ’n leerder aan Hoërskool Gordon, wat glo as verdagte aangekeer is, en die teenwoordigheid van owerhede op die skoolterrein, kon nie teen druktyd bevestig word nie. Ten spyte van verskeie pogings, kon DistriksPos dié skool nie telefonies bereik nie.
Gemeenskapsaktivis Ellen Myburgh het meegedeel dat sy ontstoke en diep ontsteld is oor die moord wat na bewering ’n wraakaanval is ná ’n vorige vermeende bendeverwante messteekvoorval verlede jaar. Dié voorval het ook ’n tiener geëis en het die moord van Emile Stewart voorafgegaan (“Jong man doodgesteek,” DistriksPos, 8 December 2021).
Myburgh wat vanaf 2016 met die jeugdiges werk, het haar kommer oor die jongelinge wat betrokke is by bendes en mekaar uitroei uitgespreek. Sy het vertel sy besef kinders word al op laerskool vir twee bendes gewerf. Dié inligting het sy bekom nadat sy die gemeenskap se laerskool as vrywilliger gehelp het om toesig te hou en kinders oor die pad te vergesel.
“Ek het die kinders met gedragsprobleme in ’n groep bekend as Living Legends geplaas en saam het ons werksessies gehad waar hulle openlik met my gesels het oor hul lewensomstandighede. Ek het later gevoel dis nie genoeg nie, en hul ouers genader. So het die Sheroes-inisiatief ontstaan.
“Dit het enkelma’s ’n platform gebied om oor hul uitdagings te praat. So, het ek besef hulle is lief vir hul kinders, maar die lewe se uitdagings het ’n uitwerking op hul ouerskap.
“My doel is om almal in een groep, onder een naam te kry en werksessies te hê, want die probleem is hulle soek liefde, maar word deur ouers in die steek gelaat wat op die verkeerde manier liefde toon.”
Myburgh het voorgestel dat daar ingegryp word om jong bendelede wat gewoonlik bymekaargebring word deur dwelms, aan die hand te neem en te rehabiliteer. Sy het ook beroep gedoen op die gemeenskap om inisiatiewe te ondersteun.
Nomama Hendrick wat vanaf haar tuiste in Williamstraat, Sun City ’n sopkombuis en ’n vroeëkinderontwikkelingsentrum bedryf, het gesê die gemeenskap praat oor bendeverwante-misdrywe waaronder onskuldige inwoners deurloop, maar dat klagtes op dowe ore val.
“Ons rus nie wanneer die bendes baklei nie. Hulle bestook ons huise met klippe en soek moeilikheid in die gemeenskap. ’n Mens kan skaars jou huis verlaat of ’n kind winkel toe stuur, want jy is bang vir jou en hulle lewe,” het Hendrick gesê.
Sy het onlangs deur Building Bridges ’n mentorskapprogram voltooi en sou ’n groep jeugdiges, glo waaronder die verdagtes was, in komende weke met ondersteuning van hul ouers betrek.
V Mense met inligting oor die Xaki se moord, kan Crime Stop by 08600 10111 bel.




