’n Bottel gif is gevind naby die lyk van ’n bekende sakeman van Somerset-Wes, wat verlede Donderdag (3 Maart) as vermis aangemeld is.
Hendrik Gerryts, die besturende direkteur van HGG Finansiële Groep, se liggaam is Vrydag (4 Maart) in die bosse op Grotto-strand gevind ná ’n twee dae lange soektog.
Volgens kaptein Fadila September, woordvoerder by Hermanus-polisie, word geen misdaad vermoed nie en sal ’n nadoodse ondersoek gehou word.
“Ons kan bevestig dat ’n bottel gif op die toneel gevind is. Daar word tans ’n outopsie op die lyk gedoen. Dit gaan ’n tyd neem voor die outopsie se uitslae aan die hof bekend gemaak word,” sê kapt. September.
Die polisie het deur middel van hul kameras wat lisensienommers herken Gerryts se voertuig gevolg soos dit deur Hermanus gery het en die voertuig is weer in Gansbaai gesien, maar teen 11:00 op 3 Maart is Gerryts se selfoon afgeskakel en is sy voertuig nie weer gesien nie.
Lourens Theron van AfriForum se Alfa-buurtwag in Hermanus was deel van die soektog en het bevestig Gerryts se voertuig is deur Hermanus-buurtwag op Donderdag by Grotto-strand opgespoor.
“Dit was ’n spanpoging en almal, van die polisie, wetstoepassers, die verskeie buurtwagte asook die brandweer het help soek na Hendrik,” sê Theron.
AfriForum se span het van Grotto-strand tot by die Plaat by Stanford se kant die strand en oseaan gefynkam, maar nêrens vir Gerryts gevind nie.
“Sy familie het toe per helikopter sy liggaam so 3,5 kilometer langs Grotto-strand af in die duine in die boslyn gevind.”
In hierdie stadium het die Gerryts-gesin besluit om geen kommentaar oor Hendrik se dood te lewer nie.
“Daar is besluit om geen mediaplasings te doen tot ná die afhandeling van die gedenkdiens nie. Sodra beskikbaar sal die besonderhede van die gedenkdiens deurgegee word,” sê Petro Hartman, direkteur van die HGG Groep.
Die HGG Finansiële Groep het vroeër die week per e-pos aangekondig dat hulle “ontsettend hartseer” is oor Gerryts, die stigter van HGG, se dood.
“Woorde kan nie beskryf hoeveel verdriet ons voel dat ons so ’n ongelooflik visioenêre sakeman, kollega en vriend verloor het nie. Terwyl ons nog hierdie enorme verlies probeer verwerk, wil ons aan al ons kliënte die gerusstelling gee dat ons sakebedrywighede normaalweg voortgaan.”



