Die gemeenskapslede van Macassar wat deelgeneem het aan ’n vreedsame optog voor Macassar-daghospitaal is Debbie Myburgh, Sue Ellen, Josephine Jafta, Dalene van Wyk, Calvyn Grandling, Rhoda Bazier en Elizabeth Booi. Foto: Rick Marais


’n Klein groepie inwoners van Macassar het aan ’n vreedsame optog deelgeneem omdat hulle voel dat die pasiënte van die plaaslike daghos­pitaal nie reg behandel word nie.

Debbie Myburgh ’n verpleegster van die gemeenskap, is baie ongelukkig dat pasiënte by Macassar-daghospitaal soms vir ure buite in die skroeiende son moet staan voor hulle die fasiliteit kan binnegaan en gehelp word.

Volgens Myburgh het ’n 78-jarige man, wie se een arm verlam is en wat sukkel om te praat, ’n veiligheidswag by die hospitaal te lyf gegaan omdat hy toegang tot die perseel geweier is.

“Die bejaarde is toegang geweier omdat hy glo te laat was, maar dit was 10:00 die oggend. Die polisie het die volgende oggend die man se huis besoek. My ma moes die bejaarde man gaan bystaan, want hy kon nie sy situasie behoorlik aan die polisie verduidelik nie,” sê Myburgh.

Calvyn Grandling, ’n inwoner van Macassar, vertel die beste tyd om die daghospitaal te besoek, was Vrydag 18 Maart. “Tydens ons optog het die ry baie vinnig beweeg. Die ry beweeg nooit so vinnig nie, van die pasiënte wag vir ure in die ry en die winter kom aan. Ons is baie bekommerd hieroor.”

Hy vertel dat daar baie siek mense in die ry staan en dan word hulle nie gehelp nie.

“Daar is nie ’n plan vir die lang rye nie. Ons wil graag hê die mense moet onder ’n afdak, uit die son uit, wag. Ons kan nie altyd met plakkate buite die daghospitaal staan om reaksie te kry nie. Iets moet gebeur. Genoeg is genoeg,” sê Grandling.

Abulele Dyasi, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in Khayelitsha se oostelike substruktuur, het bevestig dat ’n afspraakstelsel by die Macassar-daghospitaal ingestel is.

“In ’n poging om lang wagtye en rye te voorkom, het ons ’n afspraak-stelsel geïmplementeer. Die afspraak-stelsel stel ons in staat om die lang rye te verminder en alle pasiënte wat behandel word, te bestuur. Ons moedig ons kliënte aan om afsprake te maak en om slegs 30 minute voor hul afspraak-gleuf op te daag om langer wagtye te vermy.”

Dyasi sê as gevolg van hul pogings om die verspreiding van Covid-19 te beperk, moes die aantal mense wat op ’n slag binne die daghospitaal toegelaat is, beperk word. “Die beperking kan ook daartoe lei dat meer mense buite wag.”

Hy sluit af en sê die klagtes rakende kliënte (pasiënte) wat hul eie stoele dra, word tans deur die kliniek-bestuur hersien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article