Nes donker wolke Dinsdag oor die Helderberg-lug verprei het, hang ’n donker wolk oor twee plaaslike gemeenskappe.
In Strand broei daar ontevredenheid en kommer ná die polisie se onlangse besluit om luitenant-kolonel Franklin Plaatjies, die speurhoof, na ’n ander polisiekantoor te verplaas. Plaatjies het dit, volgens die plaaslike GPF en buurtwagte, reggekry om daardie belangrike gaping tussen die polisie en die gemeenskap nouer te maak.
Die toegewyde speurder het die vertrouensverhouding wat polisieondersoeke gebaat het, herstel – veral in die berugte Broadlandspark-gemeenskap wat vir jare geteister word deur bendeverwante skietvoorvalle.
Gemeenskapslede is met die verlies van Plaatjies – wat na almal geluister het, ’n formidabele speurspan gelei het en werk gemaak het van sake sonder ’n gesloer – vérál nou bekommerd oor hul veiligheid en toenemende skietmoorde wat hul jongmense uitroei.
Die vraag wat nou in die lug hang, is wat nou? Gaan Plaatjies se opvolger sy plek kan vol staan? Óf gaan bende-misdade, soos dit nou in Sir Lowry’s Pass toeneem, verder handuit ruk?


