’n Vreedsame optog wat plaasgevind het op Saterdag (26 Februarie) genaamd: ‘Stop the violence, increase the peace!’ Die optog is gehou na Hlumisa Xaki (Dinsdag 15 Februarie) buite ’n winkel in Sir Lowry’s Pass. Foto:

Credit: SYSTEM

Twee moorde wat die afgelope naweek in Sir Lowry’s Pass plaasgevind het, het die gemeenskap opnuut laat besef iets moet gedoen word oor bendeverwante-messteekvoorvalle.

Die Somerset-Wes-polisie ondersoek twee sake van moord nadat twee jongmans, 20 en 28, elk in twee afsonderlike messteekvoorvalle Saterdag en Sondag (26 en 27 Maart) gesterf het. Drie tieners is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem.

Volgens die polisiewoordvoerder sersant Suzan Jantjies het die eerste voorval Saterdag omstreeks 23:30 plaasgevind toe die 20-jarige man met ’n mes in die nek gesteek is. Die oorledene is as Johndre Godfrey geïdentifiseer.

“Godfrey is op die toneel in Mandelastraat dood verklaar. Die motief vir die moord is steeds onbekend,” sê Jantjies.

Twee verdagtes, ’n 17-jarige en ’n 19-jarige, is ná die noodlottige voorval op aanklag van moord in hegtenis geneem.

Francis Fisher, ’n verpleegster en familielid van die moordslagoffer, is vertel dat die voorval in die nabyheid van haar huis gebeur het.

“Hy is op die hoek gesteek en het toe by sy ma se huis ingehardloop. Ek het toe daar aangekom en gesien daar staan ’n kennis van my by die deur en hy bel die polisie. Ek het in die huis ingegaan en was geskok toe ek sien dat daar ’n klomp bloed op die vloer om Johndre – wie toe alreeds op die grond inmekaargesak het – gelê het,” sê Fisher.

Sy kon toe reeds aan sy gelaatskleur sien dat hy dood is.

“Ek het sy pols gevoel en sy oë oopgetrek om te kyk hoe dit lyk, maar hy was toe reeds oorlede. Dis so hartseer, want hy sou sy 21ste verjaardag in Augustus gevier het,” sê sy.

Die voorval is gevolg deur ’n tweede wat Sondag omstreeks 19:00 in Mataungstraat afgespeel het. Dié mesmoord het die 28-jarige Siyakubonga Mhlom geëis nadat hy aan ’n steekwond aan die bors en agterkop beswyk het.

Jantjies, wat bevestig het dat Mhlom op die toneel dood is, sê die slagoffer het volgens ’n ooggetuie met ’n vrou gestry. “Die slagoffer het die vrou deur die gesig geklap. Hy is toe deur ’n familielid van die vrou doodgesteek. ’n 17-jarige verdagte is Maandagoggend weens die moord in hegtenis geneem.”

Die gemeenskapsaktivis Ellen Myburgh sê bendes maak nie sake oop nie, hulle neem wraak. Myburgh het Saterdag 26 Februarie ’n vreedsame optog georganiseer genaamd “Stop the violence, increase the peace!”

Dit het gekom nadat die 17-jarige Hlumisa Xaki Dinsdag 15 Februarie voor skool buite ’n winkel op die hoek van Nieulandweg en Magwebu-straat doodgesteek is (“Tiener se moord ruk gemeenskap,” DistriksPos, Donderdag 17 Februarie). Sy was self die afgelope Sondagoggend om 01:00 op die toneel kort nadat Godfrey doodgesteek is.

“Ek weet nog nie presies wat daar gebeur het nie, maar ek was op die toneel ná die tyd. Dis hartseer, want ek het die man en sy familie geken. Dis wat die hartseerste maak. Ons kinders raak almal saam groot. Hulle het op ’n tyd by mekaar se huise gekuier. Hul ouers ken mekaar jare lank. Ons as gemeenskap kan maklik kant kies, maar dis nie net een moeder wat haar kind verloor het nie. Al die moeders verloor hul kinders weens bendes. Die families is almal gebroke,” sê Myburgh.

Volgens haar is dwelms en die uitwerking wat dit op jongmense en gebruikers het die groot probleem in die gemeenskap. “Die jongmense wat mekaar so met messe steek, is almal gebruikers. Wanneer hulle klaar gebruik is, dan is hulle in ’n ander toestand.”

Sy beweer verder die verdagte het sy ma se kant gekies nadat sy deur die man geklap is. “Hy was kwaad en het die man gaan takel. Dit was toe dat hy die man doodsteek,” sê sy.

Sy vertel daar was ander messteekvoorvalle in dieselfde gebied die naweek wat nie aangemeld is nie.

“Ek probeer kyk hoe ’n mens so iets kan stop, maar ons kan niks doen as ons nie die eintlike probleme identifiseer nie. Wanneer ek met die kinders praat oor waarom dit gebeur, dan sê hulle: ‘Ek steek mense wat mense steek, ek steek nie sommer net so nie’.”

Kolonel Jacolize Fleischmann, stasiebevelvoerder by Somerset-Wes- polisie, het haar kommer uitgespreek oor die moorde in Sir Lowry’s Pass. Hoewel daar nie vasgestel kon word of die naweek se noodlottige steekvoorvalle bendeverwant was nie, het Fleischmann wel bevestig dat die polisie meer sigbaar sal wees in die omgewing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article