Die Helderberg-rugbyklub is genooi om die afgelope Saterdag (26 Maart) deel te hê van wedstryde in Parow teen Noordelikes Northlink Kollege (NNK) ter herdenking aan sy ontslape oudafrigter Hennie Muller, wat 100 jaar oud sou wees (as hy nog geleef het).
Hennie (windhond) Muller was ’n legendariese Springbokkaptein en agsteman, wat deur vele – ook Dok Danie Craven – beskou is as die beste Springbokagsteman nog.
Muller was ook ná sy speeldae die hoofafrigter van die voormalige Noordelikes-rugbyklub, wat onder meer in 1966 die WP-rugbyunie se groot uitdaagkampioen was.
Die span het sterspelers soos die skakelpaar Hannes Fabricius en Hennie (skop) van der Merwe, Barry Ackermann, Norman Coetzee en Bertie Genade gehad.
Die dag het egter minder goed vir die tuisspanne afgeloop aangesien Helderberg al drie die wedstryde gewen het.
In die eerstespanstryd was die besoekers ná slegs twee minute voor toe sy kaptein vir die dag, die flank Schalk Burger, oor die doellyn is, waarna sy linkervleuel Jody Halford maklik verdoel het (0-7).
Hierna was Noordelikes wakker en sy verdediging solied en is sy toewyding beloon met ’n drie in die 25ste minuut (5-7).
In die 38ste minuut het Berge die bal wyd gespeel en sy regtervleuel, Jody Koul, het op ’n lang lopie afgesit en onder die pale gaan druk.
Halford se doelskop het die rustydtelling 5-14 gemaak.
Die tweede helfte het sonder veel opwinding verloop en die enigste punte is aangeteken toe die vaskopstut, Theodore Ntikinca, oor die lyn beur. Die doelskop was wyd en die eindtelling het op 5-19 in Berge se guns gestaan.
Berge het die tweedespanwedstryd naelskraaps 17-18 gewen. Drieë van Janco Maree (agsteman) en Zane Daniels (senter) plus ’n doelskop en twee strafdoele van JC Jansen (losskakel) het die telling opgemaak.
Die o.20-wedstryd is oortuigend deur Berge ná ’n 7-0-agterstand gewen toe die eindfluitjie met die telling op 7-20 blaas. Die driedrukkers was Ciaan Phillips (flank), Janco Maree (agsteman), Ilyaaz Thomas (senter) en Deagon van Wyk (vleuel).
Hierdie Saterdag begin die ligaverpligtinge met ’n reeks derbywedstryde op Charles Morkel tussen Berge en St. Georges.
Die geskiedenis maak St. Georges die gunstelinge, veral aangesien die Lulus nog altyd op Charles Morkel – sonder uitsondering – aan die wenkant was.



