’n Leerder van Strand is onlangs as die vinnigste o.17-100 m-atleet in die Wes-Kaap gekroon met ’n tyd van 10.4 sekondes.

Ethan Thomas (17) is ’n oud-leerder van Methodist Primêr en is nou in Wynberg Boys High, waar hy vir 2019 ’n beurs aangebied is. Hy is in 2017 vir die St. Devote-rugbytoernooi, ook bekend as die SA Legends, gekies en het die WP se o.13-15-man-span en die sewespan onderskeidelik in 2018 gehaal.

Ethan het in 2019 ’n groot mylpaal behaal toe hy as Wynberg Boys High se o.14-atletiekkampioen aangewys is.

Van die einde van 2019 tot in 2021 het Ethan se sportloopbaan egter as gevolg van die Covid-19-pandemie stilgestaan.

Hy het vanjaar weer aan sy skool se atletiek begin deelneem en het die 100m-wedloop gewen. Kort daarna het hy by die interskole-atletiekbyeenkoms tussen Bishops, Rondebosch en Wynberg weer ’n eerste plek in die 100m vir o.19’s in 10.6 sekondes losgehardloop.

Dit was egter Ethan se harde werk en toewyding wat die verskil gemaak het. “Ek het in die Desember-vakansie elke dag geoefen – hetsy in die gimnasium of op die veld. Ek het elke dag drie ure se oefening ingekry,” sê Ethan.

Dié jong atleet is in Februarie as die WP-kampioen in die o.17-100m-afdeling gekroon en hy het op 4 Maart by die Dal Josafat-stadium die Wes-Kaap se o.17-kampioen met ’n skitterende tyd van 10.4 sekondes geword.

Ethan het van 15 tot 18 Maart aan die SA skoleatletiekkampioenskap deelgeneem, waar hy twee medaljes en ’n sertifikaat verower het.

“Ek het by die SA skole-kampioenskap twee medaljes vir die wisselaflos ontvang. Ek het ongelukkig in die 100m-eindronde ’n vals wegspring gehad.”

Volgens Ethan maak dit nie saak waar jy vandaan kom nie, want enigiets is moontlik mits jy gewillig is om die harde werk in te sit.

“Op die oomblik het my fokus van atletiek na rugby geskuif, waar ek vir my skool se eerste span vleuel speel. Ons toer oor ’n week om aan ’n toernooi in Johannesburg te gaan deelneem, en ek is tans hard aan die oefen vir dié toernooi,” sluit Ethan af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article