Vervolg van bladsy 1
Die dapper brandbestryders, Duncan en Lameyer, wat saam met 16 jaar ondervinding spog, het die sukses van die reddingspoging aan die brandweer se spanwerk toegeskryf.
Hoewel hul ervaring ingeskop het om veiligheid op ’n brandtoneel te verseker, verspreiding te bekamp en vlamme te blus, skop hul medemenslikheid in en reageer hulle instinktief uit ’n plek wat verband hou met hul roeping vir brandbestryding.
“Telkemale red ons mense se besittings uit ’n brandende huis, maar lewens selde. Ek het my voorberei om ’n lyk uit te bring. Dit was ongelooflik toe ons daarin slaag om by die bejaarde omie uit te kom en hy leef nog,” het Duncan gesê.
“Nog meer was die duidelike verligting op die oom se seun se gesig toe hy sy pa lewend sien nadat hy staatgemaak het op die brandweer, wat danksy spanpogings wonderbaarlik deurgekom het,” het Lameyer bygevoeg.
Carelse het voorts gesê die brand is teen 02:00 geblus. Hy het ook bevestig die woning is heeltemal verwoes en die aangrensende eiendom se grasdak is ook effens beskadig in die brand, wat nege mense haweloos gelaat het. Hoewel Carelse gesê het die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie, word vermoed dat die bejaarde glo tydens beurtkrag met ’n kers gelê en Bybel lees en aan die slaap geraak het. Die kers het heel moontlik omgeval en besittings in die kamer het vlamgevat.
“Ons is heeltemal verpletter aangesien my ouers, John en Margaret Magdalene Gordon, in die huis ingetrek het ’n paar jaar nadat hulle in 1934 getroud is. Dit is baie emosioneel vir die res van die oorblywende Gordon-broers en susters en kleinkinders,” het Gordon gesê.
“Die verwoesting maak ’n mens kwaad en bring trane in die oë en hart as herinneringe van helder, gelukkige tye vervang word deur die vernietigde raamwerk van hierdie sorgvrye kinderdae.”
Hoewel Gordon die huiseienaar is, het sy wyle suster, Stella Titus, en haar gesin al die jare daar gewoon. Hy is veral hartseer oor die familiefoto’s, insluitend dié van sy suster, asook haar klavier waarop sy honderde mense oor 60 jaar geleer speel het.
Maar, hy sal vir ewig die kosbare herinneringe van sy grootwordjare, talle vieringe en waardes en lewenslesse wat hy in sy ouerhuis geleer het, koester.
Janine van der Post, Gordon se dogter en Titus se niggie, het in die lig van die voorval gesê: “Dit is absoluut hartverskeurend. Hierdie was nie net ’n huis nie. Dit was die huis waarin my pa gebore is; ’n huis waarin ek deur my oorlede ouma grootgemaak is. Dis ook reg oorkant ons kerk, Kerkstraat Metodiste kerk. Om die seer op my pa se gesig te sien, is ondraaglik. Dit was nie net nog ’n huis wat tot op die grond afgebrand het nie, dit was ons erfenis en ons nalatenskap. Nou is dit alles vernietig.”



