’n Trotse Darren Alexander ontvang sy KSUT-rugbytrui van Jongi Nokwe, ’n voormalige Springbok-rugbyspeler, wat tans ’n agterlynafrigter by KSUT is.

Credit: SYSTEM

’n Boorling van Macassar het die tonge los in die rugby-wêreld en hoop om eendag professioneel rugby te speel.

Darren Alexander (22) wat tans binnesenter vir die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Varsityskild-span speel, sê die afgelope seisoen was ’n strawwe tydjie vir die span.

“Ons het ’n goeie seisoen agter die rug en wou graag weer die kampioene wees, maar toe verloor ons met een enkele punt (28-27) teen die manne van Fort Hare Blues-universiteit,” sê Darren.

Dit was ’n harde slag vir die KSUT-span, wat in 2019 en 2021 die kampioen was.

Darren se liefde vir rugby het al voor skool begin toe hy saam met sy vriende op ’n veld naby sy huis begin rugby speel het. Hy het in Somerset-Wes Primêre Skool as onder-10 in die losskakelposisie uitgehardloop toe hy besef dit is die sport vir hom, en hy het dadelik rugby bo sokker gekies.

“Ek het al die posisies van losskakel tot skrumskakel op laerskool gespeel.”

In Alexander se tyd in die Hoërskool Strand het hy ook as skrumskakel en binnesenter opgedraf. Laasgenoemde posisie is dié waarin hy homself nou bevind.

“Wat my die meeste van rugby op universiteit aantrek, is die feit dat die span amper soos ’n broederskap is. Ons werk en oefen hard saam en is dan weg van die veld af ook goeie vriende. Ons het die hele Desember deur geoefen en al ons voorbereiding vir die jaar gereed gekry.”

Hy sê al is die Varsityskild reeds verby, fokus die span nou op die Westelike Provinsie se Super Liga C-wedstryde en die komende Westelike Provinsie 7’s-rugbytoernooi .

“Vir my is dit lekker om uit ’n gebied soos Macassar te kom en vir ander te wys dat hulle hul drome kan volg. Maar die goue reël om te onthou is om altyd eerste op jou skoolwerk te fokus en dan na rugby en ander sport te kyk.”

Darren is tans in sy tweede jaar in sportbestuur by KSUT en sê die res moet van daar af “in plek val”.

“My groot droom is om eendag professioneel rugby te speel, maar ek fokus op die oomblik eers op my studies en ek hou die rugby-droom in my agterkop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article