Die toneel van die steekvoorval op Woensdag (18 Mei).

Rick Marais

Drie verdagtes sal môre (Vrydag 20 Mei) in die Strand-landdroshof op aanklagte van die moord op ’n 33-jarige man verskyn. Die noodlottige voorval het gister (Woensdag 18 Mei) in die Rusthof-gebied in Strand plaasgevind.

DistriksPos & Helderberg Gazette het gister oor die insident berig (“Steekvoorval in Strand eis lewe”), maar die familie van die slagoffer was toe nog nie van die voorval in kennis gestel nie. Die Strand-polisie, wat op die insident reageer het, het vanoggend die identiteit van die slagoffer bekend gemaak. 

Abdullah Daggia is omstreeks 13:30 met twee steekwonde op die hoek van Eerste- en Visserstraat in die woonbuurt aangetref. Nooddienste het die 33-jarige van Rusthof op die toneel dood verklaar. 

Die motief vir die moord is onbekend, maar volgens gerugte uit die gemeenskap, is Daggia vermoedelik vir sy selfoon vermoor. ’n Woordvoerder van die Strand-polisie het bevestig drie verdagtes – twee mans en een vrou – is vroeg gisteraand in verband met die moord in hegtenis geneem. 

Die moord op Daggia het slegs twee ure ná die skietmoord van ’n tienerseun in die Broadlandspark-woonbuurt afgespeel. Die 18-jarige Angelo Matroos is volgens die Strand-polisie omstreeks 11:30 in ’n vermeende bendeverwante-voorval in Petuniastraat noodlottig gewond.

Een verdagte is op die toneel gearresteer en twee vuurwapens wat vermoedelik aan die voorval verbind kan word, is tydens ’n polisieklopjag kort ná die moord gevind. Die verdagte in dié moord verskyn ook môre in die Strand-landdroshof.

Ná die twee moorde in die aangrensende woonbuurte, het die Strand Leiers Netwerk (SLN) gisteraand in ’n verklaring die “sinnelose” moorde op die twee jong mans veroordeel. Lede van die netwerk is pastore van plaaslike kerke, en het hul medelye teenoor die families van die slagoffers uitgespreek. Talle mense het gister op die DistriksPos & Helderberg Gazette-inskrywing op Facebook reageer en hul medelye en sterk woorde ter oordeling van die moorde uitgespreek.

“Gewelddadige misdade verwoes die lewens van baie mense in ons gemeenskap. Vandag maan ons almal aan om ’n standpunt teen geweld in te neem. Die SLN-leierskap veroordeel die vlaag van geweld waar geliefdes hul lewens verloor weens sinnelose moorde deur mense wat ons gemeenskappe deur vrees en paniek wil destabiliseer,” lui die verklaring.

Die SLN het ’n beroep op die plaaslike polisie gedoen om meer sigbaar te wees, na die gemeenskap se kwelpunte te luister en effektiewe ondersoeke van stapel te stuur. “Só kan ons die misdaad in ons gemeenskap uitroei. Die verdagtes moet vervolg word en swaar strawwe opgelê word.”

Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het in ’n inskrywing op sosiale media hul medelye aan die bedroefde families betoon en inwoners gemaan om paraat te wees en alle misdrewe in die gemeenskap aan die polisie te rapporteer. “Die Strand-GPF sal voortgaan om veiligheidspatrollies, in vennootskap met die polisie, wetstoepassers, buurtwagte en sekerheidsmaatskappye uit te voer in gebiede wat as brandpunte geïdentifiseer is,” lui die inskrywing.

  • Daggia word vanmiddag, volgens Moslem-tradisie, begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article