Gemeenskapslede het hul stemme Vrydag voor Strand-landdroshof dik gemaak.

Credit: SYSTEM

Gemeenskapslede het hul steun so suksesvol verlede Vrydag (27 Mei) voor die Strand-landdroshof gewys dat die verdagtes in die Abdullah Daggia-moordsaak hul borgtogaansoeke daar en dan teruggetrek het.

Dié 33-jarige van Strand is Woensdag 18 Mei laatmiddag in ’n mesaanval op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof dood. Daggia is glo vir sy selfoon vermoor en die drie beskuldigdes – Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers – is later daardie dag in verband met die noodlottige voorval in hegtenis geneem.

Die verdagtes se eerste hofverskyning was Vrydag 20 Mei (“Vier vra borgtog ná twee moorde,” Distrikspos, 25 Mei).

Buite die hof was familielede van Daggia asook gemeenskapslede met plakkate wat gelui het “No bail for killers”.

Vroeër op 18 Mei, omstreeks 11:30, is 18-jarige Angelo Matroos in Petunia-straat van die naburige woonbuurt, Broadlandspark in ’n vermeende bendeverwante-skietvoorval dood.

Drie petisies – twee vir Daggia se beskuldigdes (een aanlyn petisie en ’n petisie wat deur Vroue in Aksie geskep is) en ’n getekende petisie vir Matroos se beskuldigde is deur honderde mense ingevul.

Die petisies in die Daggia-saak is voor die borgtogaansoek by die hof ingedien en altesaam 6 000 handtekeninge is uit Rusthof en ander Strand-gemeenskappe verkry. Die enkele petisie in die Matroos-saak het meer as 300 handtekeninge uit die Broadlandspark-gemeenskap bevat.

In Daggia se moordsaak kon net twee van die drie beskuldigdes – Adams en Hammers – verskyn. Jantjies het nie die hofsitting bygewoon nie aangesien hy in die Groote Schuur-hospitaal is weens ’n besering wat hy glo tydens aanhouding opgedoen het. Hy is boonop positief vir Covid-19 getoets.

Farouk Koopman (21) is weens die moord op Matroos in hegtenis geneem. Hy verskyn vandag (Woendsag 1 Junie) vir sy borgtogaansoek.

Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-organisasie, het Vrydag buite die hof betogers en lede uit die gemeenskap aangemoedig om ’n standpunt teen misdaad in te neem.

“Ons moet ons voete af loop, voor die hof kom staan en sê ‘genoeg is genoeg’. Ek was so gelukkig toe ek vandag in die hof sit en buite hoor hoe almal oor die luidsprekers praat. As ek dit kon hoor, het die [landdros] dit ook gehoor. As ek dit kon hoor, het die beskuldigdes dit ook gehoor. Net soos ons opstaan vir die Daggia-familie, moet ons opstaan vir elke kind wie se lewe geneem word.”

Beverly Thomas, Angelo se ma, is bly dat die beskuldigde in haar seun se moordsaak nie borgtog gekry het nie. Sy sê die afgelope Saterdag (28 Mei) was ’n moeilike dag vir die hele gesin, wat van Angelo moes afskeid neem. “My seun is een van ’n tweeling. Sy sussie het by die begrafnis gehuil en gevra waarom hy haar verlaat het. Ons harte is stukkend.”

Die drie moordbeskuldigdes in die Daggia-saak word aangehou totdat die saak Vrydag (3 Junie) voortgaan.

Jantjies moet ook dan vir die hofsitting aanmeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article