Marchant van Vuuren is amptelik as hoof van Hoërskool Hottentots-Holland aangestel.Foto: Rick Marais


Die Hoërskool Hottentots-Holland se waarnemende hoof is vroeër vanjaar voltyds in dié pos aangestel.

Marchant van Vuuren, wat in 2013 as adjunkhoof by dié hoërskool in Somerset-Wes aangesluit het en die afgelope twee jaar as waarnemende skoolhoof ingestaan het, is vanaf Dinsdag 1 Februarie amptelik aan die stuur van die skool.

Die 61-jarige het in 1988 by die Tygerberg Hoër Handelskool, wat later met JJ du Preez saamgesmelt het en vandag as Hoërskool Parow bekend staan, sy loopbaan begin. Hy het in 1998 departementshoof geword en het 25 jaar aan dié skool gewy.

“ ’n Mens durf die uitdagings aan wat padlangs kom, maar nooit het ek – toe ek in 2013 by HHH aangesluit het – gedink ek sou eendag as skoolhoof dien nie,” sê Van Vuuren.

Hy was nog altyd op skool ’n LO-onderwyser (die ou liggaamlike opvoeding) en het ook geskiedenis aangebied, wat hy steeds vir gr. 8’s en gr. 9’s gee. Van Vuuren hoop om geleenthede vir sy leerders te skep sodat hulle “wanneer hulle hier uitstap, met die regte waardes hier uitstap”.

HHH staan bekend as die skool met die hart, en Van Vuuren meen almal – die personeel en leerders – het omgeeharte.

Hy is veral trots op die groei wat leerders in hul skoolreis toon. “Dis altyd lekker om te sien hoe leerders verander wanneer hulle hier uitstap en hoe hulle groei en volwasse word. Dit is ook lekker om te sien hoe ons as onderwysers elke kind se lewe aanraak.”

Buiten skoolhou is Van Vuuren ’n kranige sport-liefhebber, veral gholf. Hy wil eendag sien dat HHH op akademiese vlak met sy buurskole meeding. “Ek wil die skool vorentoe neem, die leerders gelukkig hou en vir hulle ’n veilige hawe skep.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article