Die Hoërskool Parel Vallei-leerder Benjamin Kleyn is een van net vier leerders wat gekies is om Suid-Afrika by die internasionale wiskunde-olimpiade in Julie in Noorweë te verteenwoordig – ’n opwindende vooruitsig vir dié gr.12-leeder, wat nog nooit buite die landsgrense gereis het nie.
Hy sal ’n maand later weer sy tasse moet pak om in Indonesië as lid van die SA rekenaarprogrammeringspan aan die internasionale programmeringskompetisie deel te neem.
Leerders wat vir dié spanne gekies is, moes die afgelope jaar hul staal oor en oor toon by olimpiades, kompetisies en oefenkampe.
Benjamin is verlede jaar onder die top-20-leerders van die Institute of Information Technology Professionals South Africa (IITPSA)-olimpiade gekies. Meer as 1 300 leerders van 114 skole het deelgeneem.
Hy het selfs onlangs ’n paar universiteitstudente uitgestof om die IITPSA Entelect Hackathon te wen.
Sy lys wiskundeprestasies is ewe indrukwekkend; verlede jaar was Benjamin die naaswenner van die Universiteit van Kaapstad se wiskundekompetisie; hy het die vierde plek in die Wits-wiskundekompetisie behaal; en ’n algeheel sewende plek uit 80 000 leerders wat aan die SAMF-olimpiade deelgeneem het.
Benjamin was lid van die Westelike Provinsie se senior span, wat die algehele wenners van die Suid-Afrikaanse wiskunde-spankompetisie was, en het vir die eindronde van Die Burger se aanlynkompetisie gekwalifiseer.
Benjamin pronk met 100% vir wiskunde in die eerste kwartaal met inligtingstegnologie (IT) ’n kortkop agter op 94%.
Wat is sy resep vir sukses? “Doen iets omdat jy dit geniet.”
Hy beoog om volgende jaar rekenaarwetenskappe te studeer en so sy liefde vir inligtingstegnologie, wiskunde, rekenaars en komplekse probleemoplossing te bevorder.




