Vyf verdagtes is aangekeer in verband met twee vermeende dwelmverwante skietvoorvalle wat gister (Dinsdag 7 Junie) in Lourensiapark plaasgevind het.
Sosiale media het gegons nadat besonderhede van die skietery op platforms gedeel is en ’n beroep deur buurtwagte van naburige woonbuurte gedoen is op inwoners om Linklaan en die omliggende area te vermy.
Jantjies sê polisiebeamptes is Dinsdag in die vroeë oggendure ná die eerste voorval ontbied toe daar met ’n vuurwapen in Evie Davidsstraat losgebrand is. Die 26-jarige klaer meld dat hy omstreeks 01:45 van binne sy tuiste die skote hoor klap het. Met ondersoek het hy agtergekom die vensters en die mure van sy huis is beskadig. Polisiebeamptes het ook beslag gelê op heelwat patroondoppies wat die klaer buite op die toneel gevind het.
Die polisie het vier verdagtes, 21, twee 22-jariges, en 23, in verband met die skietvoorvalle aangekeer en op aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem. Hulle het ook ’n 33-jarige vir die besit van ’n vuurwapen wat vermoedelik in die voorvalle afgevuur is, aangekeer. Die verdagtes sal eersdaags op die verskeie aanklagte in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Volgens ’n betroubare bron volg die skietery glo ná ’n beweerde onderonsie tussen jeugdiges wat by dwelmhandel in die gemeenskap betrokke is.
“Die skietery het my die skrik op die lyf gejaag en die gemeenskap steier steeds onder skok,” sê die bron wat verder ’n beroep gedoen het op ouers om uit te praat teen hul kinders se betrokkenheid by dwelmhandel en ander misdrywe wat ander gemeenskapslede in gevaar stel.
’n Polisiewoordvoerder sê die motief vir die skietery vorm deel van die polisieondersoek. Daar kan egter nie bevestig word of die voorval wel dwelmverwant is nie.
Die Somerset-Wes-stasiebevelvoerder kolonel Jacolize Fleischmann het haar tevredenheid met die inhegtenisnemings uitgespreek.

