’n Bejaarde man is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem nadat hy deur die dak van ’n fabriek in Strand geval het.
DistriksPos en Helderberg Gazette het ná middagete verlede Donderdag (9 Junie) op die toneel in Gerber Boulevard, Gants-sentrum, afgekom. Met die koerant se aankoms was nooddienspersoneel reeds by die onderneming om die slagoffer te behandel.
Volgens ’n woordvoerder het GB Med Rescue-paramedici met bystand van ER24 vir gevorderde lewensondersteuning om 13:40 op die voorval gereageer.
“Dit blyk die slagoffer, ’n 75-jarige man, het op die dak van sake-eenheid 2 gewerk toe hy sowat agt meter ver deur ’n deursigtige sinkplaat geval het. Hy het na bewering bo-op ’n sleepwa beland en ernstige beserings opgedoen,” het die woordvoerder gesê.
Shawn Herbst van Netcare 911 het by navraag gesê hul helikopterdiens is ontbied nadat die pasiënt se beserings aan die kop en bolyf kritiek geword het. Hy is met die hulp van nooddienste by die Charles Morkel-sportterrein in die helikopter gelaai en glo na die Chris Barnard-gedenkhospitaal vervoer.



