’n Onderwyser van die Rusthof LSEN-skool is een van twee benoemde onderwysers wat Suid-Afrika in Augustus by ’n Afrika-Unie-onderwyser-prysuitdeling sal verteenwoordig.
Jevonn Cloete, die waarnemende adjunkhoof by die skool in Strand en ’n toegewyde onderwyser vir leerders met spesiale leerbehoeftes, is verlede week vir vanjaar se AU-onderwys-prys benoem. Die benoeming volg op die sukses wat dié 29-jarige onderwyser verlede jaar op provinsiale en nasionale vlak behaal het.
Dié Gordonsbaaier het verlede jaar die provinsie sowel as die land se prys vir spesialebehoefte-onderrig ontvang (“Onnie vir uitmuntendheid vereer” en “Onnie wen SA se topprys”, DistrikPos, 9 September 2021 en 14 Oktober 2021). Die pryse is deur die Wes-Kaapse-onderwysdepartement en die departement van basiese onderwys aangebied.
Cloete, wat oorspronklik van die Noord-Kaap is, is in sy noppies oor sy nuutste benoeming en opgewonde vir die geleentheid om die Suid-Afrikaanse vlag met trots te laat wapper.
“Die AU-onderwys-prys is ’n jong projek wat nou in sy vierde bestaansjaar is. Vir die AU-prys kies hulle ’n man en ’n vrou uit 2021 se nasionale prysuitdeling vir onderwysfinaliste. Die twee finaliste verteenwoordig dan Suid-Afrika in die AU-prys,” het hy verduidelik.
Die beoordelaars van dié prys is veral op die uitkyk vir onderwysers wat mik om ander onderwysers te ondersteun en ’n helpende hand aan hulle te verleen, en ’n positiewe impak op hul leerders te hê, het Cloete uitgebrei.
“Hulle soek vernuwende opvoeders, wat hoë standaarde in die klaskamer handhaaf. Die AU is ook op soek na onderwysers wat ten spyte van hul omstandighede steeds uitblink en die beste onderwysers moontlik is.”
Afrika se toptien-onderwysers sal in Augustus na die AU-Onderwys-prysuitdeling in Ethiopië uitgenooi word.
Dié plaaslike onderwys-uitblinker, wat aanvanklik ’n beroep in medies wou volg, is tans besig om sy meestersgraad in onderwys aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf.
“Ek is destyds vir medies aanvaar, maar ’n gebeurtenis as gr. 11-leerder het my van koers laat verander.
“Terwyl my wiskunde-onderwyser met ’n ander onderwyser buite die klaskamer gesels het, het ek besluit om self die wiskundeles aan te bied. Ek het daar en dan besef ek moet onderwys gaan swot,” het hy vertel.
Cloete het duidelik ’n passie vir onderrig en liefde vir sy leerders. Hy meen dié leerders word soms as onopvoedbare kinders beskou. “Dis so ver van waar af,” het hy prontuit gesê. “Deur een van die finaliste vir die AU-prys te wees, beteken dit ek kan die kollig op die onderrig van kinders met spesiale leerbehoeftes plaas, om ander bewus te maak dat dié leerders wel opvoedbaar is.”



