’n Bekroonde Helderbergse skrywer spog met ’n baanbreker van ’n tweede boek, die eerste liefdesroman van sy soort.
Analize Viljoen van Gordonsbaai het in Februarie vanjaar haar nuutste aanlynboek, Kleur en karamel, as Lapa-uitgewers se eerste Afrikaanse lesbiese Romanza op Boekemakranka se Facebook-blad bekendgestel. Die boek handel oor ’n liefdesverhaal wat by die vereistes van ’n roman hou, maar ’n verhouding beskryf waarin die hoofkarakters toevallig twee gay vroue is.
“Dit is egter bloot ’n liefdesverhaal soos enige ander een; dit gaan oor twee mense – ’n verwer en ’n bakker, dus die titel – wat op mekaar verlief raak. Dis ’n feit waaroor sommige Romanza-lesers verbaas is,” het Viljoen verduidelik.
Volgens die passievolle 52-jarige skrywer is dit ’n sub-genre in aanvraag en waarna lesers lankal uitsien, maar waarvoor die publiek in geheel tot nou nog nie gereed was nie. “Dis eintlik baie hartseer dat so ’n boek nou eers in Afrikaans die lig sien,” het sy aangevoer.
Viljoen het voorts verduidelik dat sy deur Lapa genader en gevra is of sy “die eerste boek van sy soort” in die Romanza-kategorie wil skryf en sy kon nie dié geleentheid laat verbygaan nie.
“Dit was die eerste keer dat ek ’n liefdesverhaal aangepak het, so dit was aanvanklik vir my moeilik. Ek het geweet ek moet by my eie skryfstyl hou, en het dit ’n baie realistiese soort liefdesverhaal gemaak waarin ek getrou bly aan hoe mense se gevoelens vir mekaar in die regte lewe ontwikkel en uitspeel.”
Die eerste weergawe het Viljoen omtrent drie maande geneem, daarna het sy vir nog ’n maand redigering gedoen.
“[Ek hoop] dat ander die boek lees en besef dat liefde net dit is – liefde. Dit maak nie saak wie vir wie liefkry nie. Een Romanza-leser het vir my gesê sy wil nie ’n boek lees oor gay vrouens nie. Ek verstaan dit, en dit is oukei. Net so wil gay vrouens nie noodwendig boeke lees oor straight mense se liefdesverhoudings nie, maar daar is baie min gay opsies beskikbaar – veral in Afrikaans. Dink hoe dit vir jou sou voel as net enkele boeke beskikbaar was waarmee jy jou kon identifiseer. Moet Kleur en karamel nie lees as jy nie wil nie; daar is baie ander boeke vir jou, maar gun dit aan mense wat wil en wat baie minder opsies het,” het Viljoen bemoedig.
Dié passievolle skrywer het haar kinderdroom verwesenlik toe sy haar debuutboek, Oor en weer, net langer as ’n jaar gelede bekendgestel het (“ ‘Oor en weer’ gaan jou bekoor”, DistriksPos, 11 Maart 2021). Die boek, ’n verhoudingsroman deur Viljoen en die bekroonde romanskrywer Trisa Hugo, is selfs vir ’n gesogte AKTV-Woordveertjie-prys vir liefdesromans benoem (“Skrywers verras met benoeming,” DistriksPos, 9 September 2021).
Viljoen sê verder sy is byna halfpad met ’n volgende liefdesverhaal, en sy en Hugo het nog ’n manuskrip in ontwikkeling by Lapa.
“Ons hoop die boek sal dalk teen die einde van die jaar of vroeg aanstaande jaar verskyn. Ek wil ook graag my hand aan ander genres waag. Of ek dit suksesvol sal kan doen, sal ons maar moet sien.”
Kleur en karamel is by Exclusive Books en Wordsworth te koop, en op Amazon as ’n e-book beskikbaar en kan ook deur Graffiti Books and Stationery en Lapa-uitgewers bestel word vir aflewering.
Waaroor handel die boek:
Wanneer ’n gebroke verhouding Hanri na haar tuisdorp terugdryf, begin sy huise verf, vasberade om ’n suksesvolle onderneming vrou-alleen staan te maak. Op ’n projek ontmoet sy Lily, ’n nuweling in die dorp, wat ’n koffiewinkel en bakkery open. Hanri is van die begin af gefassineer deur Lily, al probeer sy haar hart keer. Lily stel nie belang nie en vind nog haar voete ná ’n egskeiding. Toe Hanri se beste vriend, Hein, Lily uitneem, lyk dit asof dié twee ’n verhouding begin. Hanri wil nie Hein as vriend verloor nie, maar kan ook nie haar gevoelens vir Lily wegsteek nie. En vir vyfde wiel aan die wa wees sien sy nie kans nie. Liefde is egter vreemd, en niemand kan voorspel waar die hart jou sal lei wanneer jy begin luister nie.



