Owerhede dou voor dag op die toneel waar die Mercedez Benz en ‘n Ford Bantam in die vroeë oggendure van Saterdag 25 Junie gebots het.

Facebook

Die vermeende dronkbestuurder wat ná ’n noodlottige botsing op die N2 in hegtenis geneem is, bly in aanhouding.

Dit volg nadat die verdagte, ’n 54-jarige vermeende prokureur wat glo al voorheen met die gereg gebots het, Maandag (4 Julie) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn het en sy formele borgtogaansoek geweier is.

Die verdagte is op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag in hegtenis geneem ná die botsing Saterdag 25 Junie in die vroeë oggendure (“Vier sterf; dronkbestuur vermoed,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 29 Junie). Die voorval het op die N2 tussen Baden Powell en die Kramat-brug gebeur toe die verdagte se motor teen ’n bakkie gebots het.

Die polisie het omstreeks 05:45 op die voorval gereageer. Ooggetuies beweer ’n Mercedes-Benz het teen ’n “helse spoed” in die rigting van Somerset-Wes op die snelweg beweeg en van agter teen ’n Ford Bantam-bakkie, wat vermoedelik in dieselfde rigting gery het, gebots. Drie mense – twee 31-jarige mans en ’n 21-jarige vrou, wat agter in die bakkie gesit het – is weens die slag in die voorval dood. ’n Passasier, ’n 41-jarige man wat voor in die bakkie gesit het, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die bakkiebestuurder moes uit die wrak gesny word.

Die verdagte was ongedeerd en is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Die saak is uitgestel tot Maandag 1 Augustus vir verdere ondersoek.

– Jamey Gordon

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article