’n Drein wat die afgelope drie jaar gereeld in Tulbaghstraat in Strand oorstroom, het inwoners nou al lank onthuts.
Die stank – die onvermydelike nagevolg van die drein wat gereeld oorstroom – is iets waarmee inwoners moet saamleef.
Oliver Wood, die geboubestuurder van die Grasso-gebou, sê die probleem is iets wat nooit opgelos word nie.
“Die drein spoel oor, dan kontak ons die stad, en hulle kom pomp dan en ruim op. Maar so paar dae of weke later gebeur dieselfde ding weer,” sê Wood.
Die drein het verlede Sondag (17 Julie) weer oorstroom en stukke toiletpapier en rou riool was duidelik sigbaar toe Distrikspos & Helderberg Gazette die toneel besoek het.
Jesse Bowers, een van die eienaars van Vamos-restaurant – om die draai van die problematiese drein – sê die water stoot gereeld in die restaurant se toilette op. “My personeel moet dan die toilette self probeer ontblok. Dit gebeur gereeld en dis onaanvaarbaar. Die Stad Kaapstad moet nou iets aan die probleem kom doen.”
Jan Blohm, die sanger, musikant en kunstenaar wat ook in die omgewing woon, erken die drein-probleem raak hom ook.
“Ons het al verskeie verwysingsnommers van die Stad gekry, maar die probleem word nooit behoorlik uit die weg geruim nie.”
Wyk 83-raadslid Carl Punt motiveer inwoners om aan te hou om die probleem by die Stad Kaapstad aan te meld.
“As dit ’n gereelde probleem is, sal die departement die lyn ondersoek en die probleem daarna die hoof bied.”
Hy sê as probleme by die pompstasie by Sarel Cilliersstraat opduik, kan die riool in die riool-lyn in Tulbaghstraat terugdruk.
Volgens Punt kan probleme met kragtoevoer soos beurtkrag ook ’n negatiewe uitwerking op die pompstasie hê.
Zahid Badroodien, die Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir water en afval, bevestig ’n blokkasie, wat al die foute veroorsaak, is by die Sarel Cilliers-pompstasie opgespoor.
“Hierdie saak is intussen opgelos. Hierdie soort blokkasies word in die Stad se rioolstelsel aangetref juis omdat die rioolstelsel misbruik word. Ons vind gereeld alles van bou-rommel tot doeke en bande in die stelsel. As ’n reël moet inwoners onthou as hulle enigiets anders as menslike afval, toiletpapier en afval- of grys water in die toilet of wasbak laat inspoel, kan dit ’n riool-verstopping en oorstromings veroorsaak,” sê Badroodien.



