Die afsterwe van ’n vrou “met ’n hart van goud” laat ’n groot leemte in die Helderberg.
Stephanie “Nana” Jansen, ’n 50-jarige inwoner van Strand en wie se lewensdoel dit was om altyd ander te help, is verlede Woensdag (3 Augustus) oorlede.
Nana, ’n voormalige dwelmverslaafde en later ’n gekwalifiseerde kleuterskool-onderwyser, het haar ou sondes agtergelaat en ander verslaafdes gehelp en honger mense gevoer. Haar lewe het in 2014 ’n ommeswaai gehad en sy het geglo die Here het ’n plan vir haar lewe gehad. Sy het kort daarna begin studeer en vier jaar en ’n kwalifikasie later is sy as die direkteur van die Lofland Titus VKO-forum aangestel (“‘Nana’ se lewensdoel: om te dien’,” Helderberg Gazette, 5 April).
Nie net was sy baie betrokke by Lofland Titus nie, maar sy het ook ’n ondersteuningsgroep vir verslaafdes aangebied en weekliks honger mense in Strand by ’n sopkombuis in die Beverly Hills- informele nedersetting gevoer.
- Chandre Jansen, Stephanie se skoondogter, sê haar skoonma was ’n maand in die hospitaal voordat sy oorlede is. “My skoonma was ’n mensemens. Sy het almal gehelp. Sy het ander mense se behoeftes voor haar eie gestel,” sê Chandre.




