Shoprite Macassar het weer eens onder gewapende rowers deurgeloop, en hierdie keer is die plaaslike kettingwinkel, wat skynbaar of ’n gunsteling-prooi of ’n maklike teiken geword het, van honderde duisende rand beroof.
Gewapende rowers het kort ná toemaaktyd verlede Maandagaand (1 Augustus) op die ankerwinkel van die Macassar-winkelsentrum toegeslaan en glo met meer as R200 000 in kontant as buit gevlug.
Die voorval volg nadat DistriksPos en Helderberg Gazette verlede Oktober oor twee afsonderlike rooftogte wat binne die bestek van ’n paar weke uitmekaar plaasgevind het, berig het.
’n Groep gewapende rowers het die winkel Sondagmiddag 3 Oktober 2021 kort voor toemaaktyd geteiken (“Winkel loop deur onder rowers”, 7 Oktober 2021). In hierdie voorval het vyf rowers, onder wie die bestuurder van ’n wit Toyota Quantum, by die winkelsentrum opgedaag.
Vier insittendes, van wie een of twee geklee was in baadjies wat soos dié van veiligheidsbeamptes lyk, het uitgeklim. Die mans het die winkel binnegegaan, deurgekyk en buite gewag tot enkele minute voor toemaaktyd.
Die rowers het oomblikke voor 14:00 op die winkel toegeslaan; twee het die kiosk beroof terwyl nog twee die Money Market geteiken het. Met die uitbeweeg, het hulle ’n hele kasregister saamgeneem en met ’n onbekende bedrag geld weggekom.
Dié rooftog is gevolg deur nog ’n rooftog Sondagmiddag 17 Oktober 2021, toe ses rowers op die kettingwinkel se drankwinkel, ook kort voor toemaaktyd, toegeslaan het. Hierdie keer is die rooftog danksy die intuïtiewe reaksie van twee toegewyde Macassar-polisiespeurders gefnuik en die buit teruggekry (“Wakker speurders kry snuf in die neus en fnuik rowers,” DistriksPos, 21 Oktober 2021).
Sersant Norman Ngonelo en konstabel Eric Mboniswa het kort nadat vyf rowers die winkel ingestorm, geld uit die kasregister asook drank gebuit en probeer vlug het, op die toneel aangekom. Dié twee het gesê hul instink het laat blyk iets is nie pluis nie, en in ’n voertuig gespring en in die omgewing rondgery. Toe hulle by die winkelsentrum se hekke inry en in ’n parkeerplek langs ’n swart Volkswagen Golf stilhou, het die verdagtes na die voertuig aangehardloop gekom. Een van hulle het Ngonela se aandag getrek kort voordat hy ’n handradio onder ’n kar ingegooi het. Ngonelo en Mboniswa het besef wat aan die gang was en onmiddellik reageer. Die twee het die wegkom-voertuig, wat in die rigting van Khayelitsha gejaag het, agternagesit. Die speurders het veiligheidsbeamptes van die kettingwinkel se diensverskaffer in ’n voertuig gesien en in ’n jaagtog saamgespan. Saam het hulle die Golf tot in die Nkanini-informele nedersetting in Harare gevolg. Die ses insittendes het uitgespring en in verskillende rigtings laat spat toe die motor in ’n doodloopstraat tot stilstand gedwing is.
Drie van hulle het by ’n hokkie ingehardloop, waar hulle ander klere aangetrek het. Die speurders het twee van die verdagtes in die hokkie betrap en weens die rooftog in hegtenis geneem. Hulle het ook op R3 960 en 36 bokse konjakwyn, wat in die rooftog gebuit is, en die kar, wat in Brackenfell gekaap is, beslag gelê.
Die verdagtes – 31 en 33 jaar oud – sal met die verhoor wat vir Donderdag 25 Augustus vanjaar geskeduleer is, in die Somerset-Wes-streekshof verskyn.
In verlede Maandag se voorval het twee gewapende rowers om 19:40 op die winkel toegesak.
Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie was ’n winkelbestuurder en vyf veiligheidsbeamptes, onder wie drie vroue, ten tyde die voorval binne die winkel.
“Die winkel het net sy deure toegemaak en die bestuurder was besig om te sluit. Toe hy uitbeweeg, het hy ’n geluid gehoor en gesien hoe twee van die veiligheidsbeamptes, wat by die deur gewag het, deur die rowers met vuurwapens weer by die winkel ingedwing is. Die verdagtes het geld gebuit en voordat hulle daarmee in ’n Toyota Quantum-minibus gevlug het, die slagoffers grond toe gedwing en met kabelbinders vasgebind,” het die polisiewoordvoerder gesê.
“Die alarm is geaktiveer nadat ’n trollie-wag onraad vermoed het toe hy deur die winkelvenster gesien het mense lê vasgebind binne.”
’n Klagte van sakeroof word deur die polisie ondersoek en mense met inligting kan die polisiekantoor by 021 857 7100 bel.
Die Shoprite-kettinggroep het die voorval in ’n mediaverklaring bevestig en gesê niemand is tydens die voorval beseer nie en traumaberading is vir die betrokke personeellede gereël.
“Ons poog om ’n veilige inkopie-ervaring vir al ons kliënte te bied sover dit binne ons vermoë is om dit te doen, en sulke dade van misdaad wat teen ons winkels gepleeg word en uiteindelik die veiligheid van ons klante en werknemers in gevaar stel, aan die kaak te stel,” het die mediaverklaring gelui.
V
Die groep het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die blitslyn by 0800 118 879 te skakel indien inligting rakende sulke of soortgelyke misdade beskikbaar is.


