’n Driejarige seun het voor sy ouma en ouer sussie gesterf nadat hy onder die wiele van ’n minibustaxi beland het.
Die voorval het Saterdag (13 Augustus) 12:43 gebeur toe ’n taxi Breyten Kaydin Julies (3), sy ouma Maria Julies en sy 11-jarige sussie voor hul huis in Sonneblomstraat in Broadlandspark kom aflaai het.
“Ek het uitgeklim om die drywer te betaal en Kaydin en sy sussie het saam met my uitgeklim,” onthou sy.
Net nadat sy die taxibestuurder betaal het, het hy skielik begin ry en sy het gesien hoe Kaydin saam met die taxi gesleep word voordat een van die agterwiele bo-oor sy arms gery het.
“Dit is asof die wind hom geruk het en hy saam die taxi gesleep is. Sy kop het die sypaadjie getref. Toe ons by hom kom, het bloed by sy neus en ore uitgeloop,” sê Maria.
Volgens Maria het Kaydin se hart ophou klop toe paramedici hom probeer help het, en pogings om hom te herleef was suksesvol. Maar, Kaydin se hart het egter net voordat hy by die hospitaal aangekom het, weer gaan staan en hy is dood verklaar.
Volgens die Strand-polisie het Kaydin beserings aan sy kop en rug opgedoen.
Die polisie het bevestig die taxi-bestuurder is teen druktyd nie weens die voorval aangekla nie.
Die Julies-gesin staar nou die werklikheid van ’n huis sonder die gelag van klein Kaydin in die gesig.
“Ek het hom van sewe maande oud grootgemaak, want hy het sy ma verloor en sy pa het my gevra om hom en sy vier ouer sibbe groot te maak. Hy was dus my kind,” het ’n hartseer Maria gesê.
V Kaydin se begrafnis vind Saterdag (20 Augustus) om 08:00 vanaf Maria se huis in 4 Sonneblomstraat in Broadlandspark plaas.



