Brandweermanne op die toneel war ’n verwoestende brand verlede Donderdagmiddag in Gustrouw uitgebreek het.Foto: Jamey Gordon


Inwoners het ten aanskoue van omstanders brandweerspanne se pogings om die brand te blus ondersteun deur emmers met water te gryp, dakke op te klouter en vlamme uit te gooi. Foto:

Die toneel waar verlede Donderdag se brand verwoesting gesaai het.

Brandslagoffers steier steeds onder die skok van die vlammehel wat verlede Donderdagmiddag (1 September) verwoesting in Strand gesaai het.

Die brand, wat omstreeks middagetetyd by ’n perseel in die Gustrouw-woonbuurt uitgebreek het, het 12 wonings op twee erwe in puin gelê en ongeveer 40 inwoners haweloos gelaat. Daarbenewens het ’n hond, wat tydens die brand glo op ’n perseel vasgemaak was, ’n vlammedood gesterf.

Die voorval is gevolg deur nog ’n brand wat Vrydag (2 September) in Asanda Village uitgebreek en ’n slagoffer geëis het.

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, het brandweerpersoneel omstreeks 13:20 op Donderdag se voorval gereageer nadat ’n noodoproep ontvang is oor ’n wendy-huis in Solly Arendse-slot wat vlamgevat het.

“Brandweerspanne van Strand, Sir Lowry’s Pass en Macassar het met drie brandweerwaens, ’n watertenker en ’n reddingsvoertuig op die voorval gereageer. Altesaam 19 brandweermanne het daarin geslaag om die brand te beheer en teen 14:50 te blus,” het hy gesê.

Carelse het bevestig dat twee huise en verskeie informele strukture in die brand vernietig en ongeveer 40 mense haweloos gelaat is.

Hoewel Carelse ook bevestig het dat geen beserings aangemeld is nie, het ’n brandslagoffer vandeesweek bevestig dat ’n vierpotige vriend, wat tydens die brand buite sy tuiste vasgemaak was, doodgebrand het.

“Die veghond het by my deur probeer inhardloop, maar pogings om die dier van sy band af te kry, het misluk,” het Hannelize de Lange vertel.

Die 43-jarige ma van twee se blyplek is een van 10 informele strukture wat tot die grond afgebrand het. Sy het verduidelik haar woning is saam met nege ander en ’n formele huis op een van die woonpersele in puin gelê.

Nog ’n huis en ’n wendy-huis op die aangrensende perseel is deur die vlamme verswelg.

“Die werklikheid is moeilik om te verwerk,” het De Lange gesê.

“Ek kry skoon ’n pyn op my bors met die gedagte dat alles waarvoor jy so hard gewerk het, in vlamme opgegaan het. Hoe kom ’n mens daaroor?”

Volgens De Lange is sy en haar kinders – 14 en 11 – een van twee huisgesinne wat deur die bure in ’n wendy-huis gehuisves word. “Ons is nou iemand anders se las, en dis onbeskryflik moeilik,” het sy aangevoer.

Gavin James, ’n verteenwoordiger van die liefdadigheidsorganisasie Friends Serving the Community (Friesco), het gesê die sowat 50 inwoners wat slagoffers van die brand is, word “goed” deur Sassa ondersteun. Die maatskaplike toelae-agentskap bied sedert die brand drie maaltye per dag aan slagoffers.

“Ons het ook skenkings van kos en klere uit die gemeenskap ontvang asook komberse en matrasse wat deur Gift of the Givers oorhandig is,” het James bygevoeg. “Maar, huisvesting bly steeds ’n gesukkel ná die brand, wat almal stomgeslaan het.”

Volgens Carelse is brandweerspanne weer Vrydag kort voor middernag ontbied nadat informele strukture in Asanda Village vlamgevat het. Brandbestryders van Sir Lowry’s Pass, Somerset-Wes, Strand en Bellville is om 23:55 met drie brandweerwaens, ’n watertenker en reddingsvoertuig uitgestuur.

“Altesaam vier informele strukture is in die brand vernietig en twee formele wonings gedeeltelik beskadig. Een man het noodlottige brandwonde opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar,” het Carelse gesê.

Volgens Carelse is die oorsaak van albei brande steeds onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article