Romano Julius is in Sercorpark koelbloedig vermoor.

Credit: SYSTEM

’n Familie in Sercorpark het tydens beurtkrag Maandagoggend (12 September) gehoor hoe ’n skoot afgaan, min wetend dat dit hul geliefde seun is wat doodgeskiet is.

Romano Julius is om 02:45 Maandag op die hoek van Veronica- en Ericastraat (’n paar meter van sy ouerhuis) in die gesig geskiet.

Die 24-jarige pa van ’n 11 maande oue seuntjie en ’n sesjarige dogtertjie, was volgens sy ma, Rodina, op pad om sigarette te koop toe hy koelbloedig vermoor is.

“Ons het die skoot gehoor, maar niks daarvan gedink nie. Toe die krag aangaan, het iemand ons kom vertel dis Romano wat geskiet is. Ons het in die pad af na hom toe gegaan, maar hy was reeds dood,” sê Rodina.

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval bevestig. Volgens hom word ’n moordsaak ondersoek, maar tot nou is geen verdagtes in verband met die skietmoord geïdentifiseer of in hegtenis geneem nie.

Romano word onthou as ’n mense-mens wat altyd lief was vir die mense om hom.

“Hy het tot onlangs by ’n veiligheidsmaatskappy gewerk, maar is so twee maande gelede afgelê. Hy het by ons in die huis gebly, maar sy groot droom was om ’n dieselwerktuigkundige te word en ons het iemand geken wat hom die werk aangebied het en waarvoor hy homself reggemaak het,” vertel sy ma.

Sy ouma, Rosie-Anne, het nie verwag dat haar kleinkind op só ’n manier sou doodgaan nie.

“Hy het vir sy twee kinders geleef. Hy het elke maand al sy geld net so in sy kinders ingeploeg. Ek het elke aand met hom geraas omdat hy so laat sigarette gaan koop het. Ek sou altyd vir hom sê: ‘Koop jou sigarette vroegaand.’”

Romano se begrafnisreëlings moet nog bevestig word, maar daar word beoog om hom Saterdag (17 September) te begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article