Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede Woensdag (14 September) ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter verkies.
Die verkiesing volg nadat Francina Lucas, oftewel “Antie Tannas”, die voormalige voorsitter van Strand-GPF ná etlike jare van diens aan die plaaslike GPF opgeroep is om as voorsitter op die GPF se provinsiale raad te dien.
Die spesiale jaarvergadering het verlede Woensdag by die VGK-kerk in Derdestraat, Strand, plaasgevind.
By die spesiale verkiesing is Jannie Frieslaar, wat as waarnemende voorsitter ingestaan het en van 2007 tot 2012 as dieselfde GPF se voorsitter gedien het, weer in die pos verkies.
Frieslaar dien al van 1996 af in dieselfde GPF se raad.
“My hooffokus is om die gemeenskap weer ’n sterk een te maak. Die Strand-polisiekantoor was eens die topkantoor in die kluster. Ons wil weer daar kom, maar dit gaan harde werk vereis,” sê Frieslaar.
Hy vertel verder die GPF gaan daarop fokus om seker te maak oortreders kry nie borgtog nie – veral die skietvoorval-sake, soos deesdae gereeld gebeur.
Niklaas Thysen het weer eens die rol as woordvoerder van die Strand-GPF gekry.
“Ons wens almal in die GPF, insluitend Jannie Frieslaar (die nuwe voorsitter), Pastoor Patrick Sauls (wat verkies is as onder-voorsitter) en Mathilda Willemse (tesourier) sterkte toe met hul rolle in die GPF. Hulle is daar om brûe te bou tussen die polisie, wetstoepassers en die gemeenskap,” sê Thysen.
Hy vra ook dat die gemeenskap betrokke raak om misdaad aan te meld en om saam met hul onderskeie buurtwagte te werk. “As ’n kollektief kan ons Strand weer ’n veilige gemeenskap vir almal maak. Ons bedank almal vir hul samewerking tot dusver en ons as GPF beloof om deursigtig te wees en om die gemeenskap ingelig te hou van misdaad in hul omgewing,” voeg Thysen by.
Die res van die GPF se uitvoerende komitee sluit in: Brendyn Alloys (sekretaris), pastoor Johannes Pick (adjunk-sekretaris), Matilda Willemse (tesourier) en Lillian Albertyn (projek-koördineerder).



