Die kaptein en agtsteman Conway Pretorius druk vir Berge.Foto’s: Peter Bee


Die Helderberg-rugbyklub het Saterdag (24 September) die Superliga B- (SLB) eindstryd teen sy bure, St George’s, oortuigend 41-22 gewen. Asof ’n uitspeel nodig was ná 14 ligaseges in 14 bepalings . . .

Ná ’n eerste helfte waarin Berge 28-7 voor was, het St. George’s presteer om die tweede helfte 13-15 te wen – en dit met slegs 14 spelers ná die rooikaart vir hul losskakel net na rustyd. Hierdie sege en die wen van die SLB-trofee vir die vyfde keer in Berge se geskiedenis is merkwaardig. Albei klubs sal dus in die Superliga A in 2023 speel – en dit is ’n feit soos ’n koei.

Ná slegs agt minute en puik dryfwerk van hul slot Stephan Joubert het Berge se buitesenter, Quiwen Bauman, die bal gekry en verby desperate verdedigers versnel om te druk, waarna sy skrumskakel, Michael Visser, verdoel (7-0). Joubert het in die 17de minuut ’n lynstaanbal gewen, Visser het skoongemaak en vir die regtervleuel, Jodi Koul, aangegee, wat terug na Visser aangegee het, wat sy kaptein en agtsteman, Conway Pretorius, gevoer het om onder die pale te druk. Visser het weer met die doelskop geslaag (14-0).

Visser was in die 23ste minuut weer op die aanval en het die bal aan Pretorius oorhandig, wat wyd genael en Koul weggestuur het om in die hoekie te druk. Visser het die ekstras bygevoeg (21-0).

In die 30ste minuut het St. George’s gebied gewen en ná goeie dryfspel van sy agttal het sy loskopstut, Chevanne de Morney, oorgebeur. Die losskakel, Patrick van Wyk, het verdoel (21-7). In die 39ste minuut het Pretorius sy losskakel, JJ Stover, gevoer, wat onder die pale oor is. Visser het weer verdoel (28-7).

Ná rustyd en die afstuur van die Lulu Boys se losskakel en skopper kry hy tweede asem en in die 45ste minuut val die haker, Haroon Adams, in die hoek oor (28-12). Vyf minute later het die Lulus verder momentum gekry toe sy plaasvervangerflank Blaine Shelton oor die doellyn seil (28-17).

Visser het in die 61ste minuut en weer in die 65ste minuut met strafdoele geslaag, wat die telling (34-17) buite bereik gerek het.

In die 76ste minuut het Bauman die lyn gebreek en vir sy sentermaat, Lynn-Jay Hendricks, aangegee om te druk en Visser het verdoel (41-17). Met speeltyd byna verstreke het St. George’s se kranige vaskopstut, Edward Makhundayi, sy span se vierde drie in die hoek gedruk (41-22).

Groot uitblinkers vir Berge was Visser, Bauman, Pretorius en Joubert, terwyl Makhundayi, die senter Dimitri Hendrikse en die slot Malcolm van Wyk vir die Lulus geskitter het.

Groot waardering kom Helderberg se afrigting- en bestuurspan – Koos Eksteen, Lin Beukes, Bollie Kotze, Herman Pretorius, Shane Mulder, Sebastian Diressen en Lisel Gouw – toe vir die bestuur van die span en afrigting van die talentvolle spelers. Die o.20-span het ’n onoorwonne 14 uit 14 behaal en die afrigters, Theo Rodman en Ulrich Barnard en kaptein Neville Cooper het hul slag gewys.

Vrydag (30 September) word die klub se prysuitdeling in die Phil Mostert-saal by die Charles Morkel-stadion gehou. Drag is semi-formeel (das en langmouhemp). Bel Erna by 082 584 3909 vir nog inligting.

Jody Koul in aksie vir Berge.

Quiwen Bauman druk onder die pale vir Berge.

Berge se Jacques Van Zyl met die bal.

St George’s se Junaid Phillips met die bal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article