Die duo Velvetblohm, met die begaafde musikante Jan Blohm en Ryno Velvet, het die afgelope paar maande opslae gemaak met hul unieke gesamentlike vertonings en eerste enkelsnit.

Nou is dié twee weer op almal se lippe met die uitreiking van hulle tweede liedjie saam. “Kaap”, ’n delikate kontemporêre rock-snit uit eie pen, handel merendeels oor ’n vakansieromanse wat tot ’n einde kom en die sentiment wat daarmee gepaard gaan.

“Die karakters in ‘Kaap’ deel hul meegevoel en verlange oor die afstand tussen hulle, maar wens mekaar ook die beste toe,” deel die duo. “Ons wou die liedjie graag vanuit ’n storievertellersperspektief benader, en dit was die inspirasie daaragter – ’n ongekompliseerde storie van teleurstelling, maar ook vernuwing.”

Net soos hul vorige vrystelling, “Tussen Die Lyne”, wat nou nog op verskeie plaaslike treffersparades pronk, is dié treffende lied ook deur Tertius Human vervaardig en beloof dit om die sukses van hul vorige poging te oortref.

Alhoewel die Strand-inwoner Blohm en Velvet reeds in 2006 en 2009 saam getoer het, het die idee vir ’n amptelike Velvetblohm-produksie eers aan die einde van verlede jaar posgevat toe hulle weer besluit het om saam op te tree. Wat begin het as ’n manier om hul grootste treffers op ’n besonderse manier met bewonderaars te deel, het hulle dit saam met Kobie Koen van Vonk Musiek ontwikkel tot ’n geleentheid om nuwe materiaal op te neem en vry te stel.

Die duo sien baie uit om meer van hul musiek met luisteraars te deel en beplan ook om binnekort ’n album vry te stel.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet Jan dit om te skilder en beeldhouwerk te doen. Hy is ook die eienaar van Jan Blohm-kunsgalery en Blohmhuis-teater en aanlyn winkel in Strand.

“Die Blohmhuis-teater bied intieme vertonings vir besoekers en kunstenaars, en om hierdie droom te kon bewaarheid, is werklik ’n seën. Ek sien baie uit om dié projek verder te laat ontwikkel,” sê hy.

As Ryno nie sing nie, hou hy sy lyf grafiese ontwerper en fotograaf en geniet hy dit om musiek vir spesiale projekte te vervaardig. Hy verklap: “Hierdie jaar het ek tot dusver baie musiek geskryf en vervaardig. Buiten vir my werk saam met Jan, het ek ook saam met Fred den Hartog, Middelvinger en Albert Frost aan ’n rock-album begin werk en skryf ek ook graag liedjies vir ander kunstenaars.”

“Kaap” bou voort op die suksesvolle fondasie wat hierdie twee veelsydige manne reeds vir hulself gelê het en laat jou uitsien na wat hulle volgende beplan. “Hierdie liedjie is ’n toeganklike, bittersoet verhaal wat op die uiteinde iets vir die verbeelding los – ’n resep wat ons voel die luisteraar gaan vermaak en terselfdertyd ook sal laat dink,” sluit hulle af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article