Damian Taylor Foto:

Credit: SYSTEM

Nog ’n plaaslike familie is in rou gedompel ná die skokkende verlies van ’n geliefde tienerseun.

Naasbestaandes en ’n skoolgemeenskap van Somerset-Wes betreur die heengaan van die 16-jarige Damian Taylor, wie se liggaam voorverlede Saterdag (22 Oktober) aangetref is.

Die Somerset-Wes-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die tienerlyk op ’n plaas langs die R44 gevind is.

Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n polisiewoordvoerder, is polisiebeamptes Saterdagoggend omstreeks 10:00 ontbied nadat verbygangers op die gruvonds afgekom het.

Die tragedie volg etlike dae nadat DistriksPos & Helderberg Gazette berig het oor die 13-jarige Lermo Smith, wat Maandagaand 10 Oktober in sy gemeenskap aangetref is (“‘Praat!’ vra ouer”, 19 Oktober). Smith se lewelose liggaam is deur gemeenskapslede in ’n buitetoilet in Strand ontdek.

Taylor se oupa, Pieter Philips, het hul pyn en smart ná die verlies van die “vrolike seunskind” wat hulle as kleuter ingeneem en tot dusver as kosbare deel van hul huishouding gehelp grootmaak het, uitgespreek. Philips en sy vrou, Lily, het Damian die Vrydag nog lewendig gesien en nadat hy dié aand nie huis toe gekom het nie, gehoor dat hy by ’n vriend gaan oorslaap het. Die grootouers het egter kort nadat “iemand met ’n blou top nes Damian s’n” gevind is, die hartverskeurende werklikheid teëgekom.

“Damian het glo van al sy vriende afskeid geneem, en selfs vir ’n naasbestaande gevra om aan my en sy ouma te sê hy is baie lief vir ons,” het Philips gesê.

“Hy was lieflik; ’n kind duisend. Ons wag nou nog vir hom om by die deur in te stap en, soos die tipiese terggees wat hy was, met ons aan te gaan. Sy ouma sit nog elke aand sy bordjie reg – ‘Dis vir Damian,’ sê sy dan, hoewel sy nie kos inskep nie.”

Volgens Philips het die familie ná Taylor se dood bewus geword van vermeende druk waaronder hy vermoedelik geswig het.

Die Hoërskool Gordon het in ’n inskrywing op Facebook sy skok ná die verlies van die gr.10-leerder uitgespreek. “Damian was ’n goedgemanierde, hardwerkende seun wat ’n groot leemte in die Gordon-skoolgemeenskap laat. Ons gebede is met sy gesin, familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”

Die Somerset-Wes-polisie se bevelvoerder, kol. Jacolize Fleisch­mann, het namens die polisie hul medelye met die familie uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article