Dis nog ’n dag in die Helderberg. My motor se termometer wys dat dit ongeveer 20 grade buite is. Die wind waai. Dis nie snaaks nie, want die kom is bekend as die windfabriek. Soos ek in my motor sit en na die radio luister, begin “The Weekend se Sacrifice” speel. Ek wag in ’n lang ry karre vir my beurt om oor die pad te ry.
Op die sypaadjie staan ’n jong swart man met ’n groot pak Nik Naks. Dis een van daardie groot pakke Nik Naks wat jy met jou vriende kan deel. Die oranje van sy hemp is amper so helder soos die geel van die pakkie Nik Naks. Sy haarstyl lyk hip. So ’n soort van ’n Puff Daddy-cut. Kort bo en nog korter langs die kante. Hy het oorfone in sy ore. Ek kan nie hoor wat hy luister nie. Dalk luister hy ook na “The Weeknd se Sacrifice”.
Die jong hip swart man haal ’n Nik Nak uit en gooi dit vinnig in sy mond terwyl hy wag vir ’n kans om die besige pad in die Strand te oorkruis.
Hy mik en gaan staan weer stil. ’n Liggroen Ford-bakkie kom aangejaag om die draai. Dis ’n ou 1980’s Ford bakkie, die V6 een wat die manne destyds so lief was voor.
Uh, every time you try to fix me. I know you’ll never find that missing piece. When you cry and say you miss me. I’ll lie and tell you that I’ll never leave. Speel die liedjie verder.
Hy skud homself reg en gee weer ’n tree. Sy swart Converse skoene lyk of hulle al ’n paar jaar oud is.
But I sacrificed. Your love for more of the night. I try to put up a fight. Can’t tie me down.
Hy sien nie die taxi, ’n spierwit Toyota Quantum, wat so tien meter van hom af in die straat afgejaag kom nie. Die Quantum’s herinner my altyd vir een of ander rede aan die 2010 Fifa-wêreldbeker waar ek een aand saam Italianers in Panarottis pizza geëet het en geskree het vir Italië wat toe destyds met ’n punt teen Slovakië verloor het.
I don’t wanna sacrifice. For your love, I try. I don’t wanna sacrifice. But I love my time.
Hy sien die Quantum, maar hy sien die groot wit bussie net te laat. Die musiek blêr verder in sy ore, maar hy hoor nie die woorde nie.
I don’t wanna sacrifice. For your love, I try. I don’t wanna sacrifice. But I love my time.
Sy pakkie Nik Naks val voor hom op die pad soos hy terugspring vir die taxi-bus. Die Quantum mis hom net-net. Hy staan vir so ’n paar sekondes en kyk geskok vir sy pakkie Nik Naks wat nou oor die pad gestrooi lê.
I don’t wanna sacrifice. I don’t wanna. I try. I don’t wanna sacrifice. But I love my, my time.
Hy buk af en tel sy Nik Naks op. Hy los die paar Nik Naks wat uitgeval het net so op die grond. Hy stof sy pakkie Nik Naks af. Hy skud die skrik af. Hy los die worries en loop verder. Hy druk die een oorfoon wat uit sy oor geval het weer terug in sy oor in.



