’n Dringende vergadering is verlede Dinsdag (1 November) gehou om bendeverwante messteek- en skietvoorvalle in Strand te bespreek.

Die vergadering is eintlik maande gelede deur Niklaas Thysen van die United Action Group, wat ook ’n woordvoerder vir die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is, beroep.

Thysen dien in die United Action Group se portefeulje vir veiligheid en sekuriteit, waar hy seker maak ongerymdhede en misdaadneigings kry die nodige aandag deur die polisie.

“Ek het die hoëvlakvergadering aangevra met die provinsiale polisiekommissaris se kantoor en die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid se kantoor in verband met die huidige stand van bendeverwante voorvalle op jongmense. Die rooftogte in ons gemeenskap is ook nou buite beheer,” het Thysen verduidelik.

Die vergadering is ook bygewoon deur verteenwoordigers van die Vroue in Aksie-beweging, kol. Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisie se stasiebevelvoerder, asook Rhoda-Ann Bazier, ’n addisionele lid van die United Public and Safety Front se uitvoerende komitee.

Volgens Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, het bespreking van die toenemende skiet- en messteek-voorvalle die vergadering oorheers. Verteenwoordiges van die provinsiale polisiekommissaris se kantoor was glo geskok toe hulle van die brandpunte in Strand hoor.

“Twee tot drie jong mans verloor hul lewe sommige weke in dié soort voorvalle in Strand. Ons het ook bepleit dat na oplossings moet soek, vir die probleme wat net al hoe erger word,” het sy gesê.

Motasi het ook op die vergadering gesê aandag moet geskenk word aan geslagsgebaseerde geweld, aangesien al meer gevalle in die gebied voorkom.

“As ek iemand kan uitsonder, moet ek Niklaas Thysen uitsonder, wat ’n standpunt ingeneem het en gemaan het dat die moorde in Strand meer aandag by die polisie moet kry,” het Motasi aangevoer.

Bazier, ’n gemeenskapsaktivis in Macassar wat in dié gebied in ’n hoedanigheid onder die GPF nou saam met die polisie werk, het op die vergadering haar mond uitgespoel en vertel speurders van Strand-polisie ondersoek die sake nie reg nie.

“Die GPF het erken dat ’n kommunikasiegaping tussen die polisie en die GPF bestaan. Die ander probleem is mense in die problema­tiese gemeenskappe van Strand bang is om inligting aan die polisie te gee, want hulle is bang hul familielede, wat dalk by kriminele voorvalle betrokke is, deur die polisie aangekeer sal word,” het Bazier vertel.

Sy sê dié bose kringloop veroorsaak dat die gemeenskappe in vrees leef terwyl sommige polisiebeamptes glo “kop in een mus” met die misdadigers in die gebied is. “Die meeste polisiebeamptes is baie goed in hul werk en volg al die reëls, maar daar is ’n paar vrot appels wat belangrike inligting van die polisie na die bendes en misdadigers lek,” het Bazier gesê.

Thysen het van sy kant af gevra dat alle bendeverwante skietvoorvalle en moorde deur die polisie se teen-bende-eenheid ondersoek word juis oor hulle in dié veld spesialiseer.

“Misdaadtonele is tans ’n bron van groot kommer, veral waar skietvoorvalle plaasvind en bewysstukke en inligting verlore raak, en sake dan eenvoudig as gevolg van onvoldoende bewyse afgesluit word,” het Thysen gesê.

Motasi glo die vergadering gaan goeie vrugte afwerp, maar om dit ten volle te glo, wil sy eers sien watter stappe die polisie volgende volg om die misdaad in Strand hok te slaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article