Met die fokus op vroue en kinders en geslags-gebaseerde geweld in die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders het ’n dokumentêre span verlede Vrydag (2 Desember) twee video’s aan vroue, mans en kinders in Sir Lowry’s Pass vertoon.
Street Talk TV skiet kort dokumentêre reekse van 15 minute op video’s wat fokus op kwessies wat mense in hul daaglikse lewe ondervind. Verlede week se twee video’s het gegaan oor geslagsgeweld-voorvalle en hoe dit vroue, kinders en selfs mans beïnvloed.
Die inisiatief is moontlik gemaak deur die hoëkommissaris van Kanada, wat onder hul Canadian Fund geld uitgee vir organisasies sonder winsbejag (NGO’s) soos Street Talk TV.
Amy Galigan, ’n berader by die hoëkommissaris van Kanada, het van Johannesburg af gereis om die dag te kom bywoon.
“Die goewerneur van Kanada deel die toelaes onder die Canadian Fund uit, en hierdie jaar het ons die eerste keer by Street Talk TV betrokke geraak. Die onderwerp van geslagsgebaseerde geweld is iets wat meer aandag moet kry en iets wat baie belangrik is,” vertel Galigan.
Sy brei verder uit dat sy beïndruk is deur die video’s en al die dapper vroue wat hul lewensverhale met almal gedeel het.
Een so ’n vrou is La Rochelle Fisher van Kuilsrivier, wat vertel het hoe sy geweld moes deurmaak totdat sy haar eie man vermoor het en etlike jare weens dié misdaad in die tronk was.
“Vandag kan ek eerlikwaar getuig dat ek gelukkig is. Ek was bekommerd oor wat gaan gebeur met my en my kinders sonder ’n man. Op die ou einde was dit ek en my drie kinders vir wie ek moes sorg en ek moes namens my kinders ’n besluit maak.”
Sy maan ander vroue om uit sulke situasies te ontsnap.
“Kom uit en kry hulp,” was haar raad aan ander vroue.




