’n Twintigjarige man van Broadlandspark het sy lewe in ’n vermeende bendevoorval verloor.

Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat Maxwell Finnis Vrydag (9 Desember) omstreeks 22:20 ’n paar treë gestrompel en toe dood neergeval het kort nadat ’n stuk beton glo na hom gegooi en hy teen die kop getref is.

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval in Bosduifstraat naby die gemeenskapsaal in Broadlandspark bevestig.

Luidens die polisieverslag het Finnis en sy vriendin in Bosduifstraat gestap toe ’n verdagte, na wie die polisie nog op soek is, en drie ander mense Finnis vermoedelik gekonfronteer het.

Die verdagte het glo ’n stuk beton opgetel en Finnis teen die kop gegooi.

Finnis is kort daarna op die toneel dood.

Macdonald Finnis, Maxwell se pa, is nog te geskok oor sy seun se dood om eintlik te probeer verstaan wat gebeur het.

“My hart is baie seer, want Maxwell was meer as net ’n seun vir my. Hy het saam met my aan my bouwerk gewerk. Hy was so ’n slim jong mens,” vertel die bedroefde pa.

Hy erken dat hy soms met Maxwell geraas het omdat hy met die verkeerde mense vriende was, maar voeg by sy seun het ’n goeie hart gehad en almal was lief vir hom.

Die Strand-polisie het bevestig die moord is moontlik bendeverwant, maar kon geen verdere inligting verskaf word nie.

Die Finnis-familie tref nog begrafnisreëlings, maar het aangedui hulle wil Maxwell teen die einde van volgende week te ruste lê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article