Dit was glo ’n “vals alarm.”
Só sê Philip Versfeld van die Strand-buurtwag ná ’n groot bohaai by die skeepshelling langs die Strand Paviljoen op 6 Januarie afgespeel het.
Volgens Versfeld het lede van die gemeenskap vermoed kinders het die oggend van 6 Januarie in die see gaan swem en in die moeilikheid beland. Daar was sprake onder omstanders dat iemand moontlik verdrink het.
Ná ’n boot en waterponies na die beweerde mense in die water gesoek het en hommeltuie ook gebruik is om die gebied deeglik te fynkam, het reddingswerkers tot die gevolgtrekking gekom dat niemand in gevaar is of verdrink het nie.
Versfeld sê niemand het tot dusver oor die Feesseisoen in die gebied verdrink nie. Volgens hom is dit egter ’n riem onder die hart om te sien hoe die owerhede, gemeenskap en instansies met groot dringendheid en ywer saamwerk om die veiligheid van hulle gemeenskap eerste te stel.


